‘Rus in vrede, onse Wouter’

Wouter de Wet (Foto: Rsg.co.za)

Wouter de Wet, voormalige aanbieder van Dis opera en Loof die Here op RSG, is Maandagoggend in die ouderdom van 79 dood.

“Dit is met hartseer dat Radio Sonder Grense (RSG) afskeid neem van ʼn geliefde omroeper, Wouter de Wet,” het Magdaleen Kruger, stasiebestuurder van RSG, Maandag in ʼn verklaring gesê. Sy het bevestig dat De Wet Maandagoggend vroeg in sy huis in Johannesburg dood is ná ʼn kankerstryd van ongeveer vyf maande.

Dié geliefde omroeper was veral bekend vir sy kennis van opera en klassieke musiek en vir sy bydrae tot die radiowese. Hy het gereeld tussen 1996 en 2010 tennisverslae uitgesaai. Ná meer as 50 jaar in die uitsaaibedryf het De Wet in Desember 2019 finaal uitgetree.

Tinus Esterhuizen, jarelange vriend en kollega, vertel dat hy ʼn rukkie gelede al afskeid van De Wet geneem het.

“Hy het vrede gehad en was reg om te gaan,” sê Esterhuizen.

“Wouter was ʼn dierbare mens. Hy was daardie mens wat jou nog steeds elke jaar bel wanneer jy verjaar of wat ʼn boodskap stuur om dankie te sê vir koffie.”

Esterhuizen praat met groot lof van De Wet se ingesteldheid jeens sy werk.

“Hy was wyd belese en iemand wat sy tekste goed nagevors het. Wouter was hardwerkend en passievol oor sy werk.”

De Wet is by verskeie geleenthede vir sy bydrae tot die uitsaaibedryf vereer. In 2009 is hy by Huisgenoot Skouspel vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiek. In 2014 het hy ʼn spesiale toekenning by die ATKV-Mediaveertjies vir sy lewensbydrae tot die Afrikaanse uitsaaiwese ontvang en in 2019 soortgelyke erkenning van die FAK.

Kruger het De Wet bedank vir sy bydrae en passie waarmee hy gewerk het

“Dankie Wouter vir jou gentlemanskap en jou toegewydheid aan RSG. Rus in vrede, onse Wouter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

petro ·

My hart is nou so seer. Ek en my man luister elke Sondag na sy program. Daar is nou n groot leemte!
Wouter, baie dankie vir die wonderlike program en die stemming wat jy gebring het net voor die oggenddiens. Ons sal jou vir seker mis.

Rina ·

Dis nou baie hartseer nuus! Ek het Sondae-oggende se “Loof die Here” veral baie geniet! Dit het my in ‘n rustige stemming gebring om tyd saam met die Here te geniet.
Benewens sy goeie kennis van musiek, het ek ook sy tennis kommentaar altyd baie geniet! Weet nie of hy self tennis gespeel het nie, miskien het hy.

Ek het ook “Dis Opera” baie geniet.

Dankie Wouter, jy het dit ‘n louter vreugde gemaak om RSG te luister, Rus in Vrede!

Mag jy die Hemel se musiek nou baie geniet, en ek glo jy doen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.