Russiese klavierduo gaan skitter by Nederburg

Foto: Verskaf

Vassily Primakov en Natalia Lavrova . Foto: Verskaf.

Die internasionaal bekroonde Russiese klavierduo, Natalia Lavrova en Vassily Primakov, is eersdaags by die Paarlse wynlandgoed Nederburg as deel van sy konsertreeks te sien en dit beloof om ʼn musikale skittergeleentheid te wees.

Suid-Afrikaanse gehore het reeds tydens vorige geleenthede die kans gehad om virtuose solo-uitvoerings deur Lavrova én Primakov te geniet, maar met hierdie opwindende konsert span die twee buitengewone musikante hul indrukwekkende talente saam. Die program is getiteld Virtuose Extravaganza en sluit werke vir soloklavier en klavierduet in.

Albei pianiste het al ʼn geruime tyd hoogs suksesvolle loopbane as solokunstenaars geniet, maar dit is hul liefde vir twee-klavier- en vierhande-komposisies wat gelei het tot die vestiging van hul vennootskap in 2010. Sedertdien het hul uithalervertonings van klavierduo-werke die lof van internasionale gehore en kritici ingepalm.

Franz Schubert se Wanderer Fantasie, uitgevoer deur Primakov, en Sergei Rachmaninoff se Variasies op ʼn tema van Corelli, uitgevoer deur Lavrova, is ingesluit in die program vir die Nederburg-konsert.

Die res van die program word gewy aan werke vir klavierduet en sluit Carl Czerny se Groot Sonate vir Klavierduet in F mineur, Sergei Rachmaninoff se Six Morceaux, sowel as Darius Milhaud se sprankelende Le Boeuf Sur Le Toit, in.

Die Lavrova-Primakov-klavierduo is Sondag 25 Oktober tydens die Nederburg-konsertreeks te sien wat by die Nederburg-herehuis in die Paarl gehou word. Kaartjies is teen R220 per persoon beskikbaar by [email protected] of 021 809 8412/8106 gedurende kantoorure.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.