Video: Rustie-koor sing internet aan die brand met Coldplay-treffer

‘n Skermgreep uit die video

Hoërskool Rustenburg se koor het die week opslae gemaak met hul weergawe van die Coldplay-treffer “Fix You”.

“2020 is ʼn uitdagende jaar wat deur onbekendheid en verlies gekenmerk word,” sê Madeleen Koch, een van die koororganiseerders. Sy meen talle individue voel soos die liedjie se lirieke dat hulle “stuck in reverse” is.

“Met ons weergawe van ‘Fix You’ wil ons vir mense sê dat daar hoop is.”

Lize Meyer, wat saam met Koch die koor bestuur, vertel dat die lied vol lewenslesse is. Vir haar het die woorde “I will try to fix you” ʼn besondere betekenis.

“Ons moet juis in hierdie tyd gefokus wees op dit wat ons vir ander mense kan beteken, hoe ons hulle kan help en waar ons die las vir ander ligter kan maak,” sê Meyer.

Die video is sedert dit op Facebook gelaai is, meer as 800 000 gekyk en ongeveer 23 000 keer gedeel.

Dit is nie die eerste keer wat die skool die internet gaande het met ʼn musiekvideo nie. Die skool se koor het in Augustus 2019 hulle eie vertolking van Queen se bekende Bohemian Rhapsody gedoen en mense was gek daaroor. Dit het verder die skool ʼn Aitsa-beeldjie besorg vir uitmuntende werk op Afrikaanse kultuurgebied by die Aitsa Musiektoekennings in Oktober.

Die projek is onder die bekwame leiding van Ralf Schmitt vervaardig. Aanhangers van America’s Got Talent­-talentkompetisie het Schmitt verlede jaar leer ken as die koorleier van die Ndlovu-jeugkoor wat tot die finaal deurgedring het.

Schmitt het geen betaling vir sy betrokkenheid gevra nie omdat hy ʼn noue band met die skool en kinders het.

Weens die skool se streng Covid-19-maatreëls kon die koor glad nie vooraf saam oefen nie. Planne is beraam en danksy slimfoontegnologie is die verskillende stemopnames op WhatsApp vir leerders gestuur wat dan tuis geoefen het.

“Ons het mekaar die eerste keer tydens die video-opname gesien,” vertel Rialet Visser, een van die soliste. Hoewel sy dit terdeë geniet het om weer saam met haar mede-Rusties te kon lag en sing, erken sy dat dit vreemd was om afstand tussen mekaar te handhaaf.

“Die fakkels het darem gehelp om almal uitmekaar hou,” skerts sy. “Dit was vir seker een van die ligpunte van ons jaar.”

Shakira Peach, ook ʼn solis, vertel dat die lirieke vir haar ʼn ligpunt was en dat die woorde “Lights will guide you home” haar aan God en haar ouers laat dink.

“Die lig sal jou altyd huis toe lei. Dit kan enigiets wees, vir my is dit God en my ouers, hulle lei my huis toe.”

Rusties se skoolhoof, Hennie Pieterse, prys die leerders, personeel en produksiespan vir ʼn uitsonderlike produk en puik spanpoging.

“Trots. Dít is die emosie wat by my vassteek wanneer ek na die video kyk,” sê hy.

“Een van die primêre eienskappe wat ons koor so uniek maak, is dat jy elke liedjie voel. Dit is weer met die vrystelling van ‘Fix You’ bevestig. Ongeag waar jy jouself bevind, die koor kom kry jou daar en vat jou huis toe.”

Luister hier na die Rustie-koor se weergawe van “Fix You”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kaptein67 ·

Fantasties… kry ek sommer so ‘n knop in die keel en pik ‘n traantjie van pure trots oor die pragtige uitvoering. TROTS!!

Tuinuitsig ·

Sjoe dis ongelooflik mooi. Lyk of die koor pret gehad het met die maak van die video. Laat dink my jare terug aan ons skoolkoor to Annelie Botes (skrywer en musikant) ons koor begelei het. Dit was ongelooklik lekker om deel te kan wees van so ‘n koor. Dankie dat die kultuur so “boom” tydens die inperking siende die skole nie sport kan doen nie.

VannieBaai ·

So so mooi……ek kon nie eens klaar luister nie, want die trane loop vreeslik en my werksmense gaan wonder hoekom ek so grens! Welgedaan julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.