RymStoff sing oor ‘Hartvlinders’

RymStoff. Foto: Verskaf

RymStoff. Foto: Verskaf

Die nuwe Afrikaanse musiekgroep, RymStoff, wat bestaan uit Christoff de Beer en Raymond Ray, trek wye aandag van musiekaanhangers met die groep se eerste enkelsnit, “Hartvlinders”, wat vandeesweek vrygestel is.

Christoff en Raymond is egter nie nuwe gesigte in die musiekbedryf nie. Christoff was agt jaar lank in die groep Roots of Youth en het daarna aangesluit by Kurt Darren se orkes, die KD Band, as hoofkitaarspeler. As liedjieskrywer het hy ook al baie erkenning gekry, veral vir liedjies soos “Love song for a broken heart” en “Laaitie”. Hy is ook bekend vir sy kortstondige betrokkenheid by Adam toe hy ingestaan het totdat Kyle Grant heeltyds by die groep kon aansluit.

Raymond Ray is bekend vir sy rockmusiek en het in 2003  by Gresham Records aangesluit en die treffersnit “Calling” uitgereik. Hy het al die verhoog gedeel met van Suid-Afrika se grootste kunstenaars en is gereeld op die planke as hoofsanger in talle van die Barnyard Teater se produksies.

Die duo se eerste enkelsnit volg nadat hul paaie met Hugo Ludik, stigterslid van Adam en ook eienaar van Muse Productions, gekruis het.

Volgens Christoff gaan die liriek van “Hartvlinders” daaroor om verlief te wees. “Die liriek herinner aan daardie bekende vlinder-gevoel. Ons soort elektro-pop-klank het als maar ontstaan in die ateljee waar Robin Kiely ons gehelp het om ʼn styl te vind wat vir ons sal werk. Die liedjie praat met almal van jonk tot oud en enigiemand kan hierby aanklank vind,” het Christoff gesê.

RymStoff se debuutalbum word einde Mei 2016 uitgereik. Besoek RymStoff se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.