SA sanger vir Grammy benoem

Neville d (1)

Foto: Facebook/Neville d

Gospelsanger Neville D wat in Oktober verlede jaar ʼn Dove-toekenning ontvang het, is nou ook vir ʼn Grammy-toekenning benoem. Sy liedjie, “How Awesome Is Our God” saam met Yolanda Adams, Neville Diedericks, Israel Houghton en Meleasa Houghton, is vir die kategorie Beste Gospelliedjie/optrede benoem.

“Ek was nog oorweldig oor die Dove-toekenning – dis waar my ‘kop’ was – en toe kry ek die oproep van Israel Houghton, medeskrywer van ‘How Awesome Is Our God’, en hy sê vir my: ‘Ek hoop jy sit, want jy’s genomineer vir ʼn Grammy!’ Dit was ongelooflik – ek kon dit nie glo nie!”

Neville sê hy speel al van 11-jarige ouderdom die kitaar en was heeltyd omring deur musiek. “As jy grootgeword het in die kerk, soos ek, dan is daar altyd musiek om jou.” Vir Neville was musiek nog altyd sy eerste keuse. “Vandat ek kan onthou, wou ek net sing en kitaar speel – toe ek jonger was, kon my ma nie ʼn kitaar bekostig nie.”

Ek het altyd vir my speelgoedkitare gemaak totdat sy vir my ʼn tweedehandse kitaar gekoop het.

Sy talent is nie net tot kitaar beperk nie – Neville kan klawerbord, tromme en baskitaar speel. “In ons straat was daar ʼn reggae-groep gewees en hulle het my toegelaat om met hul instrumente te speel. Ek kan nou nog nie glo my ma het my toegelaat om saam met hulle te speel nie, maar ek was so toegewyd, ek wou net instrumente leer speel.” Neville sê ook dat hy by die kerk baie geleentheid gekry het om sy talent te beoefen.

En wat die vraag betref oor hoekom hy nie ʼn popsanger is nie maar gospelmusiek gekies het? “Ek like gospel en alles wat dit vir my bied. Dis ʼn leefstyl vir my en iets wat ek elke dag kan uitleef. Wanneer ek liedjies skryf, kom dit ook natuurlik om te skryf oor waarin ek glo. Hoe ouer ek raak, hoe meer is ek oortuig van dit waarin ek glo.”

Neville sê hy het al van kleintyd af sy hart vir die Here gegee omdat hy in so ʼn omgewing grootgeword het, maar namate hy ouer geword het, het sy verhouding met God al meer persoonlik geraak. “Dis my lewe, man!”

Dié sanger sê hy is baie opgewonde oor die Grammy-toekenning wat op 15 Februarie by die Staples Center in Los Angeles, in die VSA, sal plaasvind. “Of ek nou wen of nie – dit voel of ek reeds gewen het!”

Suid-Afrika het drie nominasies vanjaar ontvang. Ladysmith Black Mambazo en Wouter Kellerman is saam met Neville D genomineer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Snot ·

Uitstekend, Neville
Hoop dit gaan baie goed by die Grammys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.