Die Suid-Afrikaanse musikant en sanger Jeremy Loops het onlangs liedjies geskryf en musiek gemaak saam met die “Shape of you”-sanger Ed Sheeran. Ten minste een van die liedjie wat hulle saam geskryf het, sal op sy nuwe album verskyn.
Toe Sheeran in 2019 vir die eerste keer in Suid-Afrika opgetree het, was Loops genooi na ʼn eksklusiewe partytjie na afloop van die konsert. Daar het die twee begin gesels en goed oor die weg gekom.
Loops het onlangs aan Martin Bester op Jacaranda FM vertel dat Sheeran voorgestel het dat hulle saam begin skryf.
“Ek het gedink hy maak ʼn grap, maar ses maande later was ek in sy ateljee in Sussex, en ons het twee absolute treffers geskryf,” sê hy.
Loops het ook onlangs by Universal Musiek in Suid-Afrika aangesluit.
“Ek is opgewonde daaroor. Ons het ʼn ooreenkoms waar ek steeds eienaarskap en algehele beheer behou, maar waar hul jare se ondervinding en hulpbronne my musiek verder kan vat. Dit is die ideale situasie vir ʼn vrygees soos ek as ʼn groot platemaatskappy my visie deel.”
Loops het beloof om sy ondervinding saam met Sheeran met sy aanhangers te deel wanneer die liedjies wat hulle saam geskryf het, later vrygestel word.