SA Top 20 word 50: 1968 en 1970 tot 1971

Groep-2-Daar's-niks-soos-ware-liefde-Top-20

Groep Twee. Foto: Youtube.com

Vyftig jaar gelede is die heel eerste Suid-Afrikaanse Top 20, gebaseer op werklike verkope van kortspelers, op Springbok Radio uitgesaai. Daantjie kyk in hierdie artikel na die treffers van 1968 en 1970 tot 1971.

1968

Daar was nie minder nie as vyf Afrikaanse liedjies op die Top 20 in 1968 en twee kunstenaars het twee treffers elk gehad. Al Debbo het al jare tevore bekendheid verwerf as akteur, komediant en sanger en albei sy treffers was parodieë van liedjies wat gedurende daardie jaar die nr. 1-posisie gehaal het.

Die eerste een was “Baas Jack”, ʼn parodie van Four Jacks and a Jill se nr. 1-treffer van die begin van daardie jaar, “Master Jack”. Dit is op 7 Junie 1968 die eerste keer gelys,  het die sewende plek behaal en tien weke lank op die Top 20 gebly.

The Bats se treffer “Shabby little hut” was een van die liedjiess wat op die heel eerste Top 20 was, maar hierdie keer  het hulle  die trefferslys met ʼn Afrikaanse liedjie gehaal.  “Groen en goud”  was die heel eerste Afrikaanse rugbyliedjie en  op 12 Julie 1968 het hulle die Top 20 gehaal.  Hulle was nege weke lank op die Top 20 en het tot by die sewende plek gevorder.

Op 9 Augustus daardie jaar was daar ʼn rekordgetal van drie Afrikaanse liedjies op die Top 20. “Groen en goud” was onder die eerste tien en dit was “Baas Jack” se laaste week.  Die derde Top 20-treffer daardie week was  Ben E. Madison se “Groen koringlande”, wat toe ʼn nuweling was. “Groen koringlande” het die elfde plek gehaal en was agt weke op die Top 20.

Al Debbo se tweede parodie wat daardie jaar ʼn treffer geword het was “Sonbrilletjies”, op die wysie van Hilary se groot nr. 1-treffer “Sunglasses”, wat   op 25 Oktober, die week toe “Sonbrilletjies” gelys is, een posisie bokant Al Debbo se weergawe was .

Net die volgende week het The Bats hul tweede (en laaste) Afrikaanse treffer gehad toe “Weltevrede stasie” gelys is.  Hoewel “Sonbrilletjies”, net soos “Baas Jack”, die sewende plek gehaal het en net sewe weke op die Top 20 gebly het, is dit die een liedjie van Al Debbo wat die meeste mense onthou.

“Weltevrede stasie” was die Afrikaanse liedjie wat op daardie stadium die swakste presteer het; dit kon slegs die vyftiende plek haal en ses weke op die Top 20 bly. Laasgenoemde twee liedjies sou in dieselfde week uit die Top 20 val en was die laaste Afrikaanse treffers van die 1960’s omdat 1969 geen Afrikaanse treffers sou oplewer nie.

1970 tot 1971

Lance James was die eerste kunstenaar wat ʼn Afrikaanse treffer in die nuwe dekade sou oplewer.  Hy en Min Shaw het begin saamsing toe hulle aan die klankbaan van die rolprent Danie Bosman gewerk het. Dit was die eerste keer wat Lance in Afrikaans gesing het.

Sy eerste Afrikaanse treffer was egter ʼn solo-snit. “Dankie” het die Top 20 gehaal op 20 Maart 1970, die dertiende plek behaal en ses weke op die trefferlys gebly.

Die ander Top 20-treffer van daardie jaar was Al Debbo se laaste een. “Die tantes van Nantes”, uit die rolprent Die geheim van Nantes, is op 1 Mei  daardie jaar gelys, het die elfde plek gehaal en agt weke op die Top 20 gebly.

Twee ander groot treffers deur suksesvolle kunstenaars het die Top 20  in 1971 gehaal. Die eerste was die temaliedjie van die rolprent Vicki, gesing deur Lance James. Dit was sy grootste treffer, hetsy in Afrikaans of Engels.  Dit is op 2 April gelys, het die vierde plek gehaal en veertien weke op die Top 20 gebly.

Die ander Top 20-treffer van 1971 was die grootste van Groep Twee se loopbaan en het die Top 20 op 27 Augustus  gehaal. “Daar’s niks soos ware liefde” was ʼn Duitse komposisie met Afrikaanse woorde. Met hierdie liedjie het hulle weer die derde plek gehaal, maar hulle het agttien weke op die Top 20 gebly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan Lourens ·

dit was die dae wat musiek nog geluister kon word nie ‘n gebler soos die meeste musiek van vandag nie. daar is darem nog afrikaanse sangers wat dit die moeite werd maak, mense soos Steve

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.