SA Top 20 word 50: 1972 tot 1974

Glenys-Lynne-Springbok-Radio-Top-20

Glenys Lynne het Springbok Radio se trefferparade in 1974 met haar liedjie “Haai Casanova” gehaal. Foto: Verskaf.

Vyftig jaar gelede is die heel eerste Suid-Afrikaanse Top 20, gebaseer op werklike verkope van kortspelers, op Springbok Radio uitgesaai. Daantjie kyk in hierdie artikel na die treffers van 1972 tot 1974.

1972 tot 1974

Twee van die drie Top 20-treffers van 1972 was net een week elk op die treffersparade en die derde een het ook nie juis goed gevaar nie.  Op 25 Februarie daardie jaar het André die Top 20 gehaal met “Ek is verlief op jou”, die Afrikaanse weergawe van Octopus se “I’m so in love with you”.  Hy was vier weke lank op die Top 20 en het net die veertiende plek gehaal.

Op 14 Julie is Roy Memphis se Afrikaanse weergawe van “Maar in Amerika” in die sewentiende plek gelys, maar  hierdie belowende toetrede het op niks uitgeloop nie omdat hy die volgende week uitgesak het.

Groep Twee se tydperk op die Top 20 het op 17 November 1972 tot ʼn einde gekom. Hulle het daardie week die Top 20 in die twintigste plek gehaal met “Dink jy darem nog aan my”, maar hierdie keer het hulle net een week op die Top 20 gebly.

Dit was amper of 1973 het geen Top 20-treffers opgelewer nie.  Op 24 Augustus daardie jaar is Mynie en Jan gelys met “Ek verlang nog altyd”, maar hulle kon net die twintigsteplek haal en hulle was net die een week op die Top 20.

Billy Forrest het onder verskeie name, onder meer William E en Quentin E Klopjaeger, die Top 20 gehaal. Op 22 Februarie 1974 is sy eerste en enigste Afrikaanse Top 20-treffer op die treffersparade gelys.

Tommy Overstreet het teen die einde van 1973 die eerste plek met “Heaven is my woman’s love” gehaal en Billy het dit in Afrikaans opgeneem onder die titel “Liefde is my nooi se naam”. Hy het die negentiende plek gehaal en drie weke op die Top 20 gebly.

Four Jacks and a Jill was een van die suksesvolste Suid-Afrikaanse popgroepe tot nog toe en was die enigste groep wat twee nr. 1-treffers op Springbok Radio se Top 20 gehad het, naamlik “Timothy” en “Master Jack”. Die groep het besluit om hul Afrikaanse musiek as solotreffers van die hoofsangeres Glenys Lynne te bemark, maar dat sy steeds saam met hulle sou sing.

Glenys se eerste solotreffer was “Haai casanova”, die Afrikaanse weergawe van Vicky Leandros se treffer “Hey Joe McKenzie”.  Glenys is gelys op 24 Mei 1974, het die sewende plek gehaal en dertien weke op die Top 20 gebly. Sy het ook die volgende Afrikaanse treffer gehad toe “My hart het ʼn kleine venster” op 20 September gelys is. Hierdie snit het egter net die negentiende plek gehaal en drie weke op die Top 20 gebly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.