SA Top 20 word 50: 1975 tot 1978

Heintje-Simons

Heintje Simons. Foto: Memoryradio.de

Vyftig jaar gelede is die heel eerste Suid-Afrikaanse Top 20, gebaseer op werklike verkope van kortspelers, op Springbok Radio uitgesaai. Daantjie gee ‘n nostalgiese terugblik op die treffers van 1975 tot 1978.

1975 tot 1978

In 1975 het Heintje Simons die eerste kunstenaar wat nie in Suid-Afrika gebore is nie geword wat die Top 20 kon haal. Hy het ʼn album in Suid-Afrika opgeneem en Ben E. Madison het die Afrikaanse woorde vir verskeie snitte geskryf.

Die een waarmee hy die Top 20 gehaal het, was “Jou hart is weer myne”, wat op 9 Mei gelys is, die sesde plek gehaal het en tien weke op die Top 20 gebly het. Heintje het ses plekke in sy tweede week gestyg en sewe plekke in sy derde week, maar hy kon nie verder vorder nie.

Op 25 Julie is twee Afrikaanse snitte tegelyk gelys vir die laaste keer. Conway Twitty en Loretta Lynn het kort tevore die eerste plek gehaal met As soon as I hang up the phone en Caroline du Preez se Afrikaanse weergawe,  “Net soos ek die telefoon neersit”, is in die twintigste plek gelys. Die ander nuweling, in die veertiende plek daardie week, was “Ek verlang na jou”, geskryf deur Jan de Wet en gesing deur Sonja Herholdt.

Caroline kon net die sewentiende plek haal en vyf weke op die Top 20 bly, maar Sonja het beter gevaar. Soos Heintje Simons het sy die sesde plek gehaal, ʼn posisie wat sy ook in haar derde week sou bereik. Sy het uiteindelik net agt weke op die Top 20 gebly.

Roy Bulkin was destyds deel van die groep Tamaletjie en hulle het ʼn Afrikaanse weergawe van “Little white dove”, getiteld “My klein witte duifie”, opgeneem. Hulle is op 26 September gelys, he die negende plek gehaal en nege weke op die Top 20 gebly.

Daar was twee treffers in 1976 en albei sou baie goed vaar. Op 9 Julie het Glenys Lynne die Top 20 gehaal met “Ramaja” en twee weke later het Ian en Dix toegetree me “Sonder jou”, nog ʼn komposisie van Jan de Wet.

Op 27 Augustus was daar vir die eerste en laaste keer twee Afrikaanse liedjies onder die eerste drie: “Ramaja” was toe al die tweede Afrikaanse nr. 1 treffer, terwyl “Sonder jou” sy hoogste plek, naamlik nommer drie, bereik het. Ian en Dix was elf weke op die Top 20 en “Ramaja”, wat drie weke in die eerste plek was, sestien weke.

In 1977 was daar net een Top 20-treffer toe Vicki du Preez op 14 Oktober gelys is met “Tot siens auf wiedersehen”, wat deur Anton Goosen en Tinus Esterhuizen geskryf is. Vicki het die twaalfde plek gehaal en was sewe weke op die Top 20.

Die oorgeklankte televisiereeks Heidi het Suid-Afrika se verbeelding in 1978 aangegryp. Die temaliedjie was in Duits en is deur Gutti und Erika gesing. Daar was egter twee weergawes op Springbok Radio se Top 20. Peter Lotis se Engelse weergawe is op 16 Junie daardie jaar gelys, gevolg deur Herbie en Spence se Afrikaanse weergawe ʼn week later. Herbie en Spence het nie so goed soos Peter Lotis gevaar nie. Peter Lotis het tot by die tweede plek gevorder, maar Herbie en Spence kon slegs die dertiende plek haal en tien weke op die Top 20 bly.

Carike Keuzenkamp het die tweede kunstenaar geword wat in Nederland gebore is, maar die Top 20 met ʼn Afrikaanse liedjie kon haal. Die verskil is dat Carike op ʼn jong ouderdom na Suid-Afrika gekom het en hier gebly het, terwyl Heintje Simons dit nie gedoen het nie en steeds in Nederland gebly het hoewel hy in Afrikaans gesing het.

Carike se enigste Afrikaanse treffer was die Anton Goosen-komposisie “Hoeka toeka”, wat op 29 September gelys is.  Sy het ook twee Engelse treffers gehad, naamlik die nr. 1-treffer “Timothy” en “Last dance”. “Hoeka toeka” kon net die sewentiende plek haal en twee weke op die Top 20 bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Carina Rabie ·

Ek onthou dit nog so goed. My pa het ‘n hele paar langspeelplate van Heintje gekoop en ons het dit nou nog. Ek het ook vir jare na Springbok radio geluister, toe Esmé Everhardt dit nog aangebied het. Lekker ou dae ….

mosselbaai ·

Ai was so lekker om die ou “plaat” te hoor. Was my kleintyd held. Oe ja en donny osmond lol. Wie was die outjie nouweer wat “mamma he’s making eyes at me” gesing het?

Marietjie ·

Ek is nog steeds mal oor Conway Twitty an Lorreta lynn se musiek , Heintjie rock nog steeds !! Dit is lekker om die musiek te luister .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.