SA Top 20 word 50: 1979 tot 1984

Laurika Rauch

Laurika Rauch. Foto: Argief.

Vyftig jaar gelede is die heel eerste Suid-Afrikaanse Top 20, gebaseer op werklike verkope van kortspelers, op Springbok Radio uitgesaai. Daantjie gee in hierdie artikel ‘n terugblik op die treffers van 1979 tot 1984.

1979 tot 1981

In 1979 het die Musiek-en-Liriek-beweging ontstaan en dit was gepas dat twee kunstenaars wat deel was daarvan, die Top 20 sou haal.  Anton Goosen het op 13 April daardie jaar tot die Top 20 toegetree met “Kruidjie-roer-my-nie”. Hoewel hy slegs die tiende plek gehaal het, het hy sestien weke op die Top 20 gebly.

Die volgende Afrikaanse Top 20-treffer was ʼn legende. Katinka Heyns het Koos du Plessis se musiek vir die televisiereeks Phoenix en Kie gebruik en Laurika Rauch se sangstem is vir Jana Ciliiers se karakter gebruik. “Kinders van die wind” was die temaliedjie en die res is geskiedenis. Dit het die Top 20 op 14 September gehaal, die derde plek bereik en dertien weke lank op die trefferspadade gebly.

Daar was geen Afrikaanse Top 20-treffers in 1980 nie. In 1981 het nog ʼn nuwe sangeres haar verskyning gemaak.  Cora-Marie is op 13 Maart gelys met “Gee haar ʼn roos”, wat die sestiende plek gehaal en vyf weke op die Top 20 gebly het.

David Kramer het “Haak hom Blokkies” geskryf en opgeneem om saam te val met die Springbok-rugbyspan se toer na Nieu-Seeland. Dit het ʼn Engelse versgedeelte en ʼn Afrikaanse refrein gehad en het die eerste plek gehaal die naweek toe die Springbokspan hul laaste toets op die toer gespeel het. David het ook teen die einde van die jaar ʼn Afrikaanse treffer gehad met “Royal hotel” wat op 18 Desember gelys is, die sewende plek gehaal en twaalf weke op die Top 20 gebly het.

1982 tot 1984

“Royal hotel” was nog nie lank op die Top 20 toe 1982 aangebreek het nie, maar gedurende daardie jaar is twee ander liedjies ook gelys.

Anneli van Rooyen het in 1980 die ATKV se Crescendo-kompetisie gewen en twee jaar later is haar tweede album vrygestel. Ruben Lennox het homself as liedjieskrywer begin vestig en sy komposisie “Sewe sakke sout” het die Top 20 op 30 April gehaal. Anneli het die vierde plek gehaal en dertien weke op die Top 20 gebly.

Cora-Marie was kort daarna terug met ʼn nuwe treffer. “Gee vir my ʼn bietjie country” is op 20 Augustus gelys, het die twaalfde plek gehaal en nege weke op die Top 20 gebly.

Die volgende Top 20-treffer het twee rekords opgestel.  Teen die einde van 1982 is die televisiedrama Vyfster uitgesaai en Lloyd Ross het vir die temamusiek gesorg. Die temaliedjie het  op 14 Januarie 1983 die tweede instrumentale snit geword wat die Top 20 gehaal het, maar het baie beter as “Oliekolonie” van die Boet van Wyk-orkes gevaar.

Lloyd het die derde plek gehaal en vir ʼn rekordgetal van negentien weke op die Top 20 gebly. Hy het egter ook ʼn twyfelagtige rekord agter sy naam.  Op 20 Mei, die tweedelaaste week voordat die trefferslys van twintig na dertig liedjies uitgebrei is, het Lloyd van die tiende na die twintigste plek gedaal; ʼn rekordgetal van tien plekke.

Op 3 Junie is die eerste Suid-Afrikaanse Top 30 uitgesaai. Slegs een Afrikaanse liedjie kon die Top 30 haal sonder om die eerste twintig te bereik. “Roos van my hart” van Cora-Marie het op 29 Julie die Top 30 gehaal, maar net tot by nr. 25 gevorder en vyf weke op die treffersparade gebly.

In 1984 was die laaste twee Afrikaanse liedjies tegelyk op die Top 30. Op 21 September het Herman Holtzhausen se “Trans-Karoo” die Top 30 gehaal en drie weke later het hy die eerste twintig gehaal. Hy het die dertiende plek gehaal, nege weke onder die eerste twintig gebly en dertien weke op die Top 30.

David Kramer was die laaste kunstenaar wat ʼn Afrikaanse liedjie op die Top 30 gehad het. “Stoksielalleen” het op 28 September tot die Top 30 toegetree en moes tot 16 November wag voordat hy die eerste twintig kon haal. Hy het die agttiende plek gehaal, was drie weke lank onder die eerste twintig en elf weke op die Top 30. Daar was nooit weer ʼn Afrikaanse liedjie op die Suid-Afrikaanse Top 30 wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.