SA Top 20 word 50 jaar oud

Springbok-Radio

Foto: Youtube.com

Op 4 Junie, vyftig jaar gelede, is die heel eerste Suid-Afrikaanse Top 20, gebaseer op werklike verkope van kortspelers, op Springbok Radio uitgesaai. Die eerste liedjie wat op die Top 20 gespeel is, was “Mrs. Brown you’ve got a lovely daughter” van Herman’s Hermits, wat daardie week in die 20ste plek was en later die nr. 1-posisie sou haal, terwyl “I need you” van Rick Nelson die heel eerste nr. 1-treffer was. Daar was tussen 1966 en 1984 verskeie Afrikaanse liedjies op die Top 20 en ter viering van die 50ste bestaansjaar van die SA Top 20 kyk ons na die Afrikaanse treffers wat die Top 20 gehaal het en interessante statistieke.

1965 tot 1967

Daar was in 1965 geen Afrikaanse treffers op die Top 20 nie, hoewel ʼn mens seker kan bespiegel oor die moontlikheid dat Virginia Lee die trefferslys met “Ek sal jou nooit vergeet nie” sou kon haal as die Top 20 ses maande vroeër die eerste keer uitgesaai is. Die album waarop hierdie liedjie vrygestel is, Vaarwel my lief-ek sal jou nooit vergeet nie, is in daardie jaar uitgereik en kon dalk vroeg daardie jaar verskyn het.

Op 22 April 1966 het Des Lindberg die eerste kunstenaar geword wat die Top 20 met ʼn Afrikaanse liedjie kon haal. Die ironie was dat Des Engelssprekend was en dat die liedjie waarmee hy dit reggekry het “Die gezoem van die bye”, ʼn oorsese wysie met Afrikaanse lirieke was.  Dit het egter nie saakgemaak nie; in sy tweede week het hy sewe plekke tot by nr. 11 gestyg en die daaropvolgende week het het hy die rekord opgestel vir die Afrikaanse liedjie wat die meeste plekke in een week gestyg het, naamlik agt ; tot by die derde plek. Twee weke later het dit die eerste van twee Afrikaanse liedjies geword wat die eerste plek gehaal het, waar dit drie weke gebly het. Op die ou einde het dit 13 weke lank op die Top 20 gebly.

Die volgende Afrikaanse treffer sou nog ʼn rekord opstel wat nooit verbeter sou word nie. Op 10 Maart 1967 het Groep Twee die Top 20 getref met “Die oukraalliedjie”.  Hulle het in die dertiende plek begin, maar hoewel hulle die derde plek gehaal het, het hulle nooit meer as twee plekke per week gestyg nie.

Op 5 Mei daardie jaar was daar vir die eerste keer twee Afrikaanse liedjies op die Top 20. “Die oukraalliedjie” was in die twaalfde plek nadat dit sewe plekke gedaal het, maar die Boet van Wyk-orkes het in die sestiende plek toegetree met “Oliekolonie”, die eerste van twee Afrikaanse instrumentale snitte wat die Top 20 sou haal. Toevallig het Groep Twee ook ʼn stem-weergawe van hierdie treffer opgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jeannine ·

lekker boeremusiek van in my kindertijd
groete vanuit belgie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.