SA vermaakpaartjie verruil SA vir Namibië

Stefan en Anelle Ludik op hul troudag. (Foto: Dune Kahlau Fotografie)

Stefan en Anelle Ludik op hul troudag. (Foto: Dune Kahlau Fotografie)

In ʼn tong-in-die-kies video op YouTube, wat ook op ander sosialemediaplatforms gedeel is, het Stefan Ludik, hoofsanger en bestuurder van die musiekgroep Elvis se Seun, skertsend aangekondig dié groep ontbind.

Die groep is veral bekend vir treffers soos “Sandra Prinsloo” saam met die sanggroep Mwah! en “Jy speel ʼn game met my” saam met die popsangeres Irene-Louise van Wyk.

Ludik en sy vrou, die aktrise Anelle Bester, het in November verlede jaar die ouers geword van ʼn babaseun, Leonard. Ludik het aan Maroela Media bevestig hy en sy gesin maak ʼn permanente skuif Namibië toe. Ludik is in Namibië gebore en getoë.

In die video skerts Ludik dat Elvis se Seun swaar toerusting uit ʼn bussie gelaai en ʼn rugbesering opgedoen het. “Ons het hom dadelik na die hospitaal gejaag. ʼn Dokter het ʼn prosedure op hom uitgevoer om sy rugwerwels te heg en per ongeluk ook sy stembande gesny,” vertel Ludik in die video.

“Eers agterna het ons uitgevind die dokter was ʼn scam artist en het meer skade as goed gedoen. Hy het veroorsaak dat Elvis se Seun nie meer kan loop nie en ook nie meer kan sing nie.”

Ludik voeg by dat Elvis se Seun nie in die afsienbare toekoms beskikbaar gaan wees vir optredes nie. “Ek, Anelle, Leonard en ons drie hondjies is sak en pak op pad Otjiwarongo toe. Die twee Jack Russells en chihuahua is soos ons kinders, so hulle gaan beslis saam,” sê hy aan Maroela Media.

Anelle en klein Leonard. (Foto: Instagram)

Anelle en klein Leonard. (Foto: Instagram)

Ludik gaan vir Theo’s Superspar op dié dorp werk. “Almal in Namibië ken hom. Hy het my ʼn baie goeie pos aangebied, wat moeilik was om van die hand te wys. Ek en Anelle het besluit dat dit vir ons as gesin, en veral vir klein Leonard, beter is om die groot trek aan te pak. Die lewensgehalte en veiligheid in Namibië is soveel beter.”

Otjiwarongo is sowat twee uur van Windhoek af. “Dit is ʼn kleinerige dorp met ʼn lekker gemeenskap van goeie mense,” sê hy.

Anelle gaan vir eers tuis bly saam met Leonard. “Dit is vir haar lekker om tuis te wees om na hom om te sien; sy gaan vir eers huismamma speel saam met al die kinders. Sy het ook ʼn groot passie vir stemwerk en skilder, wat sy beslis ook sal kan uitleef.”

Hy vertel sy ouers woon tans in Windhoek. “Dit gaan heerlik wees om hulle meer gereeld te sien.”

Stefan en die gesin se drie hondekinders span uit op die rusbank. (Foto: Instagram)

Stefan en die gesin se drie hondekinders span uit op die rusbank. (Foto: Instagram)

Ludik, wat voorheen onder meer konstruksiewerk gedoen het, sê hy twyfel of hy ná die skuif by musiek gaan uitkom. “Ek gaan so besig wees in my nuwe pos omdat ek ʼn meer kreatiewe werk gaan moet doen. Dit is heel anders as wat ek voorheen gedoen het.

“Ek bly in my hart ʼn liedjieskrywer en die liedjieskryf kom vir my maklik. Dit is deesdae maklik om op sosialemediaplatforms musiek te deel, so miskien sal ek dit doen. Ek sal ook dalk, as die geleentheid hom voordoen, na Suid-Afrika reis om feeste by te woon, maar ons skuif na Namibië is beslis permanent.”

Ludik het bekendheid verwerf toe hy destyds as Namibiër aan die werklikheidsprogram Big Brother Africa deelgeneem en vandaar ʼn sang-en-televisieloopbaan van sowat 15 jaar in Suid-Afrika opgebou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

PJN ·

Sterkte vir julle daar in Otjiwarongo. Die die beste skuif ooit om die geleentheid te benut om terug te gaan waar jou wortels is. Ek as oud Namibier wens ek kon so skuif aanpak maar staan op aftrede en dit is baie duur om weer daar te vestig. Ons al jou baie mis maar glo daar sal baie geleenthede as sanger oor jou pad kom in NAM.

Bamsie ·

Hoe gelukkig is hulle om te kan trek na n land waar dit veiliger is. Hy spot, n con artist dokter het my spinale koord beseer en hy gaan net voort. Net my stem werk nog…

AmY ·

Stefan, Anelle, en klein Leonard; sterkte met die groot trek Namibië toe, en alles van die beste vir julle. Ek wens ek was julle.

RITA ROSSOUW ·

R.S.A. SE VERLIES IS ONS IN NAMIBIÈ SE GROOTSTE WINS – WELKOM TUIS

Heksie ·

Julle daar in NAM is oor die algemeen baie meer bevoorreg as ons wat hier in die beton oerwoud moet probeer oorleef!

Linda ·

Stefan en Anelle jul het beslis die regte besluit geneem. Jul baba sal floreer in Namibia…pas net op vir die slange hahaha. Totsiens, hoop Huisgenoot sal nou en dan vir ons laat weet hoe dit met julle gaan !!!

Heksie ·

Sjoe, hoe beny ek jou nou dat julle in Namibië gaan bly.
Voorspoed en sterkte!

lisa ·

aggenee , my gunsteling sanger gaan nie meer sing nie. Sterkte Stefan en gesin, mag julle gelukkig wees in jul nuwe skuif. Soos SA nou is, sou ek ook skuif.

Derick ·

Welkom terug in die land van melk en heuning.
As n gebore Suid Afrikaner WIL ek NOOIT terug na Suid Afrika gaan nie.

Elsabie vd Merwe ·

Het in Grootfontein groot geword, deur die oorlog maar nou hier in SA sal alles gee om weer terug te gaan, dis net ander mense daar alles is net anders mens sukkel om hier aan te pas Namibia bly my plekkie van vrede, sterkte julle dit gaan ‘n wonderlike ervaring wees en ons gaan julle is

lee ·

Dan is jy ook nog slim..beste besluit om SA te verlaat. Ek sal wat wil gee om ook in Namibie te kon bly! Baie sterkte voorentoe.

Lee ·

Dan is jul nog slim ook! Beste besluit om SA te verlaat vir Namibie. Ek sal graag daar wou woon. Sterkte vir julle vir die pad voorentoe!

Smirre ·

Good riddance. Sal groot bydrae maak tot Namibia se kuns en kultuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.