Sallas de Jager: Rolprentmaker, musikant, gesinsman

Sallas de Jager saam met sy dogters, Marli en Lisa, tydens die première van 'Dominee Tienie'. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Sallas de Jager saam met sy dogters, Marli en Lisa, tydens die première van ‘Dominee Tienie’. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Sallas de Jager het eers sy voete in die Afrikaanse vermaakbedryf gevind as musikant en liedjieskrywer vir die groep Klopjag, en later naam gemaak as die regisseur van talle gewilde rolprente. Maar sy belangrikste rol nóg, is sy rol as pa, eggenote en familieman.

Dié pa van vier kinders, Marli, Lisa, Dawid en Walter, en eggenoot van Liesl, met wie hy sedert sy studentedae op Tukkies in Pretoria uitgegaan het, vertel aan Maroela Media dat hy ook bevoorreg was om in ʼn groot, hegte gesin groot te word.

Volgens De Jager is dit juis hierdie sterk fondasie in sy lewe wat bydra tot die gesinselemente wat meeste van sy flieks, soos sy mees onlangse rolprent Dominee Tienie, het.

“ʼn Stewige familiefondasie en die veiligheidsgevoel wat dit skep, is vir enige mens ʼn basiese en belangrike behoefte en ek probeer altyd om dit op die platform wat ek het, te bevorder, al gaan dit nie so goed tussen mense op die oomblik nie,” sê De Jager.

“Dit is ongelukkig nie ʼn eenvoudige ding nie en daar is altyd eksterne faktore wat dit in die wiele kan ry en dit is altyd baie jammer. Maar ek glo ook stories is ʼn manier om jouself te genees. Om te sien dit is oukei om partykeer kwaad te word, om te vergewe en om die minste te wees.”

Hy gee toe dat hy besef het ouers maak baie foute vandat hy self ʼn ouer geword het. “Ek maak heel waarskynlik baie foute op die oomblik met my eie kinders, maar my liefde vir hulle is massief. Niemand, nie eers ek, kan dit vir jou beskryf nie. Dit is belangrik om te besef dat jou ouers baie liewer vir jou is as wat jy ooit sal kan weet en al maak hulle foute, hulle is ook maar net mense.”

Daarom sal hy aanhou om daarin te delf met sy rolprente, sê hy. “Tyd saam met jou gesin is iets wat kan help vir baie dinge. Daar is ʼn heilige draad wat ʼn gesin bymekaar hou, al is dit net jou bloedgroep.”

Hy vertel hy wou altyd ʼn digter word, maar het dié droom laat vaar toe die manuskrip wat hy op universiteit saamgestel het, saam met Liesl se motor voor haar woonstel gesteel is. ʼn Paar maande later het musiek egter oor sy pad gekom en het die skryfgogga weer begin byt.

Sallas ontvang tydens Maroela Media se Buitebioskoop in 2016 'n spesiale toekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse rolprentbedryf. (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)

Sallas ontvang tydens Maroela Media se Buitebioskoop in 2016 ‘n spesiale toekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse rolprentbedryf. (Foto: Phillip Bruwer / Maroela Media)

De Jager onthou hoe hy en John-Henry Opperman, of Jonnas soos De Jager hom noem, musikant en voorsanger vir Klopjag, mekaar destyds ontmoet het tydens ʼn Olienhout-huisvergadering op Tukkies, waar hy regte en Opperman IT studeer het. Opperman was bevriend met Marie-Louise Diedericks, tjellospeler van die groep.

“Dit was omtrent tien jaar ná die Voëlvry-beweging en daar was niemand wat regtig oorspronklike musiek vir jongmense in Afrikaans gemaak het nie. Jonnas het in ʼn groep met die naam Lady Selbourne gespeel, maar hulle het ook net covers van goed wat destyds in was, soos Pearl Jam en Oasis, gedoen,” vertel De Jager.

Hy en sy broer, Dawie de Jager, wat ook nou sy merk in die bedryf as solokunstenaar maak en ook oorspronklike musiek vir rolprente soos Stroomop en Dominee Tienie behartig het, het saam musiek begin maak terwyl Opperman en Diedericks gespeel het by Up the Creek, die destydse gewilde kuierplek in Pretoria. Uiteindelik het dié twee groepe besluit om saam te smelt.

“Dinge het maar stadig vir ons begin, want ons was nog nie vreeslik goed nie. Ons het liedjies soos ‘Relatiwiteit’ en ‘Dalk ʼn boerseun’ gehad. Mense het al hoe meer begin kyk, maar ek dink dit was meestal ons vriende,” lag hy.

Hy vertel hoe hulle eerste groot deurbraak gekom het toe hulle genooi is om tydens die ATKV se hoofleiersimposium op te tree.

“Ons het gedink dit is ongelooflik! Hulle het vir ons ʼn kombi gegee om mee te toer. Ons was so in ons skik. Dit was so ver verwyder van ons realiteit – ons het ander dinge studeer en Dawie was nog in matriek, so ons moes ons optredes rondom sy matriekeindeksamen skeduleer,” vertel hy laggend.

“En toe sê hulle nog hulle gaan ons geld óók betaal om te speel! Ek onthou ons het by die oord aangekom en ons elkeen het ʼn chalet met ʼn yskassie gehad. Ons het dit so geniet, want ons het gedink dit gaan nooit weer gebeur in elk geval nie. Ons het gedink die hele ding gaan maar ʼn stille dood sterf as ons vriende nie meer wil kom kyk nie en dan is dit maar verby, maar dit het toe nie so gebeur nie.”

Die groep Klopjag bestaan uit John-Henry Opperman, Sallas de Jager, Dawie de Jager, Marie-Louise Diedericks, Werner Griesel en Morné Bam. (Foto: Verskaf)

Die groep Klopjag bestaan uit John-Henry Opperman, Sallas de Jager, Dawie de Jager, Marie-Louise Diedericks, Werner Griesel en Morné Bam. (Foto: Verskaf)

Volgens De Jager het die groep, wat ʼn lang rustydperk geneem het, nooit ophou speel nie en daarom beplan hulle nie ʼn groot comeback nie. “Elke keer as ons beplan ons gaan nou weer ʼn ding aan die gang kry, dan kry een van ons kinders,” lag hy. Diedericks se tweede seuntjie is op 5 Maart gebore.

“Dit voel soos kroek as nie al ses van ons nie daar is met ʼn Klopjag-vertoning nie. Klopjag is baie meer as ʼn band vir ons almal wat deel is daarvan. Dit het vir ons ʼn plek geword waar ons onsself kon uitleef en waar ons kon eksperimenteer en waar ons net onsself kon wees. Ons het basies ses mense saam in ʼn kombi gebly vir tien jaar, ʼn miljoen kilometer saam afgelê en ʼn duisend shows saam gedoen het.

“Ons was gelukkig dat ons vriende gebly het en ek dink dit is omdat ons pelle was voor die tyd. Dit is ʼn baie moeilike lewe om vol te hou vir so ʼn groot groep. Ons het ook besluit ons wil net weer bietjie lééf – toe ons dit aanvanklik begin doen het, het ons ʼn hele leeftyd se ervarings gehad om liedjies oor te skryf. Ons wou onsself net tyd gun om in ons persoonlike lewens, maar ook saam met ons gehoor te groei. As ons ʼn keuse het, sal ons nooit ophou speel nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.