Sangduo vier die liefde met musiek, wyn en koffie

Die foto’s vir die tweede hoofstuk van die Bottomless Coffee Band se album Prediker is in Stellenbosch geneem. (Foto: @collected_pix)

Danksy die manier waarop die musiekbedryf met die digitale beweging verander het, is daar nou klomp nuwe maniere om nuwe musiek uit te reik.

Die folk-pop-duo Lourens en Esté Rabé se jongste album, Prediker, is in vier hoofstukke verdeel wat stuk-stuk uitgereik word. Hoofstuk 1 het reeds in Desember verlede jaar die lig gesien en bevat drie enkelsnitte, naamlik “Sewe somers”, “Ek wou nog” en “Alles en niks”.

Al die snitte op die album is gedurende die Suid-Afrikaanse inperking weens die Covid-19-pandemie geskryf. Dit is geïnspireer deur ʼn lewensveranderende ervaring met hulle besoek aan die VSA in Januarie verlede jaar.

Die onvoorspelbaarheid van die inperkingstydperk, asook die uitwerking van ʼn pandemie op die wêreld en die samelewing, het die temas van die album geïnspireer.

“Ons hele benadering tot musiek was nog altyd om konsepte te verwoord en stories vas te vang om ʼn redelik ernstige boodskap meer verteerbaar te maak. Die hart agter ons musiek is dat dit ʼn positiewe uitwerking op die mens moet hê,” vertel Lourens vanuit die Rabé-huis in die Paarl in die Wes-Kaap.

“Ons liedjies word altyd geskryf ten doel om iemand te laat beweeg – of dit nou is om die liefde te vier, deur verlies te werk of om drome na te jaag, enigiets wat ʼn positiewe reaksie in mense kan ontlok.”

Die konsep vir Prediker het in Nashville, Tennessee, ontstaan toe Lourens en Esté in ʼn kroeg deur ʼn wildvreemde man in ʼn cowboy-hoed genader is en hy gevra het of hy vir hulle kan bid. Hy het ook vir hulle gesê: “Kies die regte deur om deur te loop en volg die liefde”, ʼn frase wat hulle bygebly het.

“Ons het later vasgestel hy is ʼn plaaslike predikant en ʼn bekende in Nashville. Ons het die liedjie ‘Prediker’ geskryf toe ons terug is in Suid-Afrika met die inspirasie van dié gebeurtenis en die frase waarmee hy ons gelaat het.”

Volgens Esté is daar ʼn goue draadjie wat elke snit op die album aan mekaar verbind en reageer luisteraars goed op die diversiteit wat hulle nuwe musiek bied.

“Omdat ons so graag wou hê dat elke liedjie ten volle tot sy eie reg moes kom, selfs al vorm dit ʼn eenheid, het ons dit by verskillende ingenieurs gaan opneem én wat pas in sy eie styl. Mense se terugvoer wys vir ons dit het gewerk, want hulle hou van die diversiteit en dat dit hulle onkant betrap.”

Sy vertel die terugvoer op die liedjie “Ek wou nog” het hulle veral oorweldig. Die liedjie handel oor verlies, ʼn ervaring wat sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie ʼn sterk tema in mense se lewe is.

“Soveel mense het vir ons boodskappe gestuur en gesê hulle gaan vashou aan die liedjie terwyl hulle hul verlies verwerk, want dit voel asof dit vir hulle geskryf is. Mense voel ook hulle ken jou as jy so ʼn liedjie geskryf het en hulle deel dan baie persoonlike goed met jou. Dit het ons heel onkant betrap.”

Die foto’s vir die tweede hoofstuk van die Bottomless Coffee Band se album Prediker is in Stellenbosch geneem. (Foto: @collected_pix)

Die duo bied ook sogenaamde #Wineloverssouthafrica-konserte aan, waartydens verskillende wynlandgoedere se wyne ten toon gestel word op ʼn Bottomless Coffee Band-vertoning.

“Omdat ons in die wynland gevestig is en dit die omgewing is waar ons musiek ontwikkel het, het ons natuurlik ʼn klomp wynmakers oor die jare ontmoet. Ons wou ook graag bydra tot die wynbedryf, wat swaar gekry het toe die inperkings en verbodsbepalings op drankverkope ingestel is.”

Dié konserte vind oor die hele land, en selfs in hulle eie sitkamer in die Paarl, plaas.

“Dit is vir ons baie belangrik dat die wynmakers ook gevier word tydens ons vertonings. Die hele idee is dat dit ʼn gesellige atmosfeer moet wees, waar mense weer byeen kan kom en die wonderlikste gesprekke en wyn kan deel.”

Hoofstuk 2 van Prediker sien een van die dae die lig. Dié hoofstuk bevat ook drie snitte, naamlik “Jonk en verlore”, “Sonskyn en die reën” en “Klankdig”.

Prediker Hoofstuk 1 is beskikbaar op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.