Sangduo wil bemoedig, hoop skep met musiek

Frank Furniss en Johan Brits van Frank and I. (Foto: Nelis Engelbrecht)

Vir Johan Brits en Frank Furniss van die musiekduo Frank and I, is dit belangrik om in hulle alledaagse lewens en deur hulle musiek die Woord van God te versprei.

Met hulle jongste enkelsnit “Ons sal weer opstaan” poog hulle ook om vir Suid-Afrikaners hoop te gee en te verenig.

Frank and I is gestig nadat Johan en Frank vriende geraak het by musiekgeleenthede in die Kaap waar albei opgetree het, en sedertdien het dié duo nog net van krag tot krag gegaan.

Hulle vertel aan Maroela Media die groep se naam het vir hulle net reg op die oor geklink toe iemand voorstel hulle moet die groep sommer “Frank and I” noem.

“Ek wil ook weet hoekom is dit nie ‘Johan and I’ nie,” skerts Johan, wat al 12 jaar lank ʼn bekende sanger, liedjieskrywer en lofprysingsleier in die plaaslike gospelbedryf is.

Johan en Frank het saam die liedjie “Ons sal weer opstaan” geskryf. “Die Here het ons saam in die rigting van ʼn album gestuur. Ons geloof is ons fondasie. Met al die negatiwiteit wat die mense van ons land tans ervaar, het ons gevoel ons wil iets skryf wat hoop skep en hulle gerusstel dat daar ʼn toekoms vir ons is in dié land.”

Volgens Johan (29) het die Here reeds talle van hulle musiekdrome in vervulling gebring en dit motiveer hulle om steeds musiek te maak, ten spyte van die harde klippe wat kunstenaars kou weens die pandemie.

“My en Frank se passie is om vir mense te laat verstaan dat Jesus leef en as Hy vir jou iets belowe het, sal Hy dit in vervulling bring.”

Frank and I. (Foto: Nelis Engelbrecht)

Hulle het nie net verskeie vertonings in Nashville, Tennessee in Amerika, gedoen nie, maar het ook op eie bodem die verhoog gedeel met groot plaaslike name soos Jo Black, Juanita du Plessis, Steve Hofmeyr, Nianell, Prime Circle, Johnny Clegg, Retief Burger en Elvis Blue.

Frank (39) en is al bykans 20 jaar lank doenig in die musiekbedryf. Hy woon tans in die Paarl en het na skool in Pretoria en op Stellenbosch musiek studeer.

Hy is ʼn kitaarspeler, vervaardiger, liedjieskrywer, lofprysingsleier en sanger en het al die voorreg gehad om saam met internasionale sterre soos Will Smith, Queen, Annie Lennox en Katie Melua te werk. Plaaslik het hy ook al vir verskeie groot name kitaar gespeel.

Die musiekpaar is tans besig om aan ʼn album te werk en het nog baie planne en drome toekoms, soos om saam met internasionale groepe soos U2 en Coldplay te werk.

“Daar is nog ʼn hele paar los drade in Nashville wat ons wil gaan vasmaak en ooreenkomste wat weens Covid-19 nie kon voortgaan soos beplan nie, gaan voortsit. Ons beplan ook om ons album saam met ons soontoe te neem. Ons wens is om mense, reg oor die wêreld, positief te beïnvloed met ons musiek.”

“Ons sal weer opstaan” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.