Sangduo word ambassadeur vir internasionale natuurbewaringsfonds

Esté en Lourens Rabé van die Bottomless Coffee Band. (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse musiekduo Bottomless Coffee Band is aangewys as die amptelike ambassadeur vir die internasionale natuurbewaringsinisiatief, Community Conservation Fund Africa (CCFA).

“In hierdie chaotiese tyd van ʼn wêreldwye pandemie raak ons nog meer bewus van die sinergie tussen planeet en mens; dat ons na ons omgewing moet omsien sodat ons omgewing na ons kan omsien,” verduidelik Lourens en Esté Rabé, die egpaar wat ook die sangduo Bottomless Coffee Band vorm.

Die duo se nuwe snit en musiekvideo getiteld “Wilderness” is saam met die aankondiging van die ambassadeurskap uitgereik.

Die vennootskap tussen die duo en die CCFA het ontstaan ná ’n konsert in die Oos-Kaap verlede jaar. Adrian Gardiner, uitvoerende hoof en voorsitter van die CCFA, was in die gehoor.

“Hy het ons agterna genader en behoorlik aan die dink gesit met die vraag ‘Wat doen julle, as musikante, vir natuurbewaring?’. Die gedagte dat ons moontlik deur ons musiek by natuurbewaring betrokke kon raak, het ons so geïnspireer dat ons dadelik hand op papier gesit het,” vertel die paar.

Só het “Wilderness” die lig gesien. “Die liedjie vertel die verhaal van ʼn renosterkalf wat van sy ma geskei word nadat ʼn stroper haar vir haar horing skiet. Dit dien as ʼn metafoor vir die groter omgewing- en bewaringskrisis; ons is almal geskep om in harmonie en sinergie op hierdie planeet te leef – om daardie natuurstelsels te beskerm wat ons nie kan herskep as ons dit eers kwyt is nie,” verduidelik hulle.

Hulle sterk oortuiging en inspirasie vir “Wilderness” was ook die dryfkrag agter hulle vennootskap met die CCFA. “Vir ons gaan musiek daaroor om mense bymekaar te bring en stories te vertel. Ons bydrae is om die fakkel na verskillende gehore op alle vlakke van die samelewing uit te dra, die bewaringsboodskap te versprei en geld in te samel vir die saak.”

“Lourens en Esté se talent het my geïnspireer,” antwoord Gardiner op die vraag oor wat hom na die duo aangetrek het.

“Toe ek verlede jaar ná die konsert met hulle gesels, het ek besef dat hulle passie en musikale vermoëns hulle kragtige agente vir verandering kan maak. Hulle is die perfekte keuse om die bewaringsboodskap deur musiek uit te dra.”

Boonop het die duo ʼn vennootskap met Fairview se wynkelder en kaasmakery gesluit, wat onderneem het om R1,00 aan die CCFA te skenk elke keer dat iemand die musiekvideo op sosiale media deel. ʼn Gedeelte van die liedjieverkope sal ook aan die CCFA geskenk word.

Lourens en Esté Rabé van die Bottomless Coffee Band. (Foto: Verskaf)

“Ek dink musiek is die beste wêreldwye kommunikasiemiddel, en as daar ’n boodskap is wat juis nou op ’n wêreldverhoog oorgedra moet word, is dit bewaring,” sê Charles Back, eienaar van Fairview.

“Die twee werk so goed saam dat dit lands- en kultuurgrense kan oorsteek en mense oor die hele wêreld kan raak.”

“Wilderness” is beskikbaar vir aankope op Apple Music, iTunes, Spotify, Google Play en Deezer. Klik hier vir meer inligting oor die CCFA.

Kyk hier na die musiekvideo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.