Sanger en sepiester se solo-album tref die rakke

Tarryn Lamb is ʼn kunstenaar in murg en been en nou is dié veelsydige aktrise en sangeres se lank verwagte solo-debuut, Mal oor jou, uiteindelik op die rakke.

Lamb, wat bekendheid verwerf het as deel van die sanggroep Blackbyrd, vertel sy is opgewonde oor die album. “Ek voel so geseënd oor die ervaring wat ek opgedoen het. Ek het saam met baie spesiale mense in die bedryf, soos Arnold Coleske, Paulo Azevedo en Danny Smoke, gewerk.”

Sy is ook liries oor die kunstenaars saam met wie sy die geleentheid gekry het om te sing in die album. “Ek sing ʼn duet genaamd “Afgrond” saam met Jay en ek doen ook Ed Sheeran se liedjie “Perfect” saam met Kevin Leo. As ek weer na die liedjies luister, dan kry ek so ʼn warm gevoel as ek dink aan die pad wat ons saam gestap het. Daar was net soveel liefde wat almal in die projek gesit het.”

Tarryn Lamb. (Foto: Verskaf)

Tarryn Lamb. (Foto: Verskaf)

Die album bevat 14 snitte waarvan die meeste uit die bekroonde liedjieskrywer, Johan Oberholzer, se pen kom. Volgens Lamb het sy elke dag ʼn ander gunsteling-snit in die album. “Vandag is dit die liedjie ‘Geheueverlies’. Voor hom was dit vir ʼn baie lang tyd ‘Vier woorde’. Ek het amper elke dag daarna geluister in my kar. Ek stuur elke keer vir Johan ʼn boodskap net om weer dankie te sê. Hy het die ongelooflikste liedjies vir my geskryf en ek is so dankbaar daarvoor.”

Lamb, wat onlangs bekroon is met ʼn Safta vir haar rol as Kim in Suidooster, het ʼn musiekvideo vir die liedjie “Vier woorde” uitgereik. Dié video is in die Kaap verfilm en sy vertel dit was nie ʼn maklike taak nie.

“Ons het die video in een skoot met net een kamera geskiet. Ons moes dus die danspassies inoefen sodat ons die regte skote kon kry. Dit was belangrik dat ons dit net in een skoot regkry,” vertel sy.

Die danser Jác-Louis Snyman vertolk die rol van Lamb se geliefde in die video. “Die konsep van die video simboliseer die verskillende tye in ʼn verhouding. Wanneer hulle gelukkig is en wanneer hy haar los. Ek het dadelik aan Jác-Louis gedink toe ons dansers vir die video begin kies het, want ek het al saam met hom gewerk aan produksies soos ‘Afrikaans is Groot’, en hy is ʼn ongelooflike danser. Hy interpreteer dans op so ʼn diep manier en ons maak ʼn goeie span. Ek dink ons het ongelooflike chemistry op die skerm.”

Mal oor jou is landwyd by groot musiekhandelaars asook aanlyn op iTunes en JOOX beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Santie ·

Tarryn Lamb het vir my die pragtigste stem, en dan is sy nog baie mooi daarby. Ek hoop jou album doen goed, en dat ons nog baie van jou gaan hoor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.