Sanger, omroeper besing die liefde én die lewe

Francois van Rensburg (Foto: Facebook)

Die Afrikaanse sanger en radio-omroeper Francois van Rensburg het pas sy jongste enkelsnit en musiekvideo uitgereik en dié liedjie handel oor die liefde.

Die sanger, veral bekend vir sy radioprogram Sondag Vibe op GROOTfm, vertel ʼn groot gedeelte van dié liedjie – getiteld “Bid dat God jou spaar” – is spontaan geskryf tydens ʼn kuier saam met een van sy vriende.

“Die liedjie is ʼn manier om vir iemand te sê jy is lief vir hulle. Die wens dat God iemand vir jou moet spaar is waarskynlik ʼn meer intense manier om dit te beskryf, maar dit bly ʼn liefdesliedjie,” vertel hy.

Van Rensburg sê dié musiek verskil van sy vorige werk. “Omdat musiek my stokperdjie is – een wat ek ernstig opneem – en nie noodwendig op enige gegewe oomblik aan ʼn volledige album op ʼn slag werk nie, stel ek meestal enkelsnitte vry. Dit gee my baie vryheid ten opsigte van die klank, want ek word basies nooit gebind om net een tipe klank of genre te produseer nie,” vertel hy.

“Elke liedjie het daarom sy eie identiteit en genre om te pas by die tema waaroor ek skryf. In hierdie geval het ‘Bid dat God jou spaar’ ʼn pop- en moderne aanslag wat heeltemal verskil van my vorige enkelsnitte wat meer klaviergedrewe ballades was.”

Francois van Rensburg (Foto: Facebook)

Die musiekvideo vir die liedjie is op die dak van ʼn Pretoriase besigheid geskiet, spesifiek vir die uitsig oor die Jakarandastad, Lynnwood-weg en die N1-hoofweg.

“Toevallig het my vriend Brenden Draper en sy meisie in die tydperk wat ek uiteindelik die liedjie opgeneem het, verloof geraak. Die liedjie het dadelik vir my nuwe betekenis gekry en daarom het ek hulle albei gevra om in die video te verskyn – ons wou dit aan hulle opdra,” sê hy.

Die sanger is dié jaar onder meer as aanbieder op die kykNETprogram Revue! saam met Sue Pyler en Phillru van Achterbergh. “Ek is elke jaar van vooraf opgewonde oor watter geleenthede oor my pad kom. Nie een jaar is dieselfde nie! Buiten vir my werk as aanbieder, sien ek nog uit na my radioprogram Sondag Vibe/Gister se grotes op GROOTfm waar ek Sondae al die goue oue-treffers speel en uitvind waar gister se legendes hulself vandag bevind.

Van Rensburg is ook later vanjaar in ʼn klug te sien. Vir meer inligting, besoek sy Facebook-blad.

“Bid dat God jou spaar” is deur Wouter van de Venter verwerk. Die musiekvideo is deur Pieter Cloete geskiet en vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tanya dvB ·

Welgedaan Francois!! Hierdie is uitstekend. Well done met die video Pieter. Sommer trots om julle te ken.

Francois ·

Dankie Tanya. Dis alles te danke aan Pieter Cloete wat die video so mooi geskiet en ge-edit het. Hy is ‘n briljante vervaardiger en multi talentvol. Ons waardeer jou terugvoer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.