Sanger sien ‘nuwe horison’ ná depressie

Die sanger en liedjieskrywer Len Muller het sy hart oopgemaak teenoor Maroela Media toe hy vertel het oor sy stryd met angs en depressie.

Muller se jongste enkelsnit, “Nuwe horison”, gaan juis daaroor dat daar lig is aan die einde van die diep donker tonnel van depressie.

“Baie van my musiek word gebore uit my persoonlike joernaal wat ek byhou. Dit is my lewe en hoe ek dinge hanteer wat daarin gebeur. My musiek is soos ʼn terapiesessies vir myself,” sê hy.

“Ek het agtergekom dat daar baie mense is wat hulle met angs en depressie kan vereenselwig, omdat soveel mense hierdeur gaan. So, ek wil my storie begin deel om vir mense te wys daar is hoop en daar is ʼn uitweg.”

Muller is sewe jaar gelede met angs en depressie gediagnoseer. Hy vertel dat hy al van jongs af sukkel met sy selfbeeld, maar dat sake vererger is nadat hy in ʼn traumatiese motorongeluk was ʼn paar jaar gelede.

“Ek is van jongs af al ʼn baie diep mens. Ek het nie ʼn groot vriendekring gehad nie, en as jy jouself in so ʼn situasie geïsoleer hou, kan hierdie soort goed jou oorweldig. Die motorongeluk het ʼn groot effek op my emosies en op wat ek van myself gedink het, gehad. Dit het my selfwaarde aangetas,” vertel hy.

Lennie Muller (Foto: Facebook)

Hy sê depressie is steeds ʼn onderwerp waaroor mense, veral mans, moeilik praat.

“Ek is ook eers laat in my lewe gediagnoseer en ʼn mens weet nie altyd hoe om dit te hanteer nie, maar ek het geleer dat ek daaroor moet praat. Ek het agtergekom dat dit normaal is en dat ek maar daaroor mág praat, want ek verstaan dit.”

Muller sê hy het “Nuwe horison” geskryf in een van die donkerste tye van sy lewe.

Die liedjie begin met die woorde: “O, kind, jy sal moet praat.” Muller sê dít was die begin van genesingsproses. Hy moedig nou ook ander mense aan om te praat oor hul gevoelens. Hy sê dít is wat hom deur die depressie help.

“Ek het gekies om uit te reik na mense, veral vriende en familie wat na aan my is. Ek dink jy sal in die moeilikheid kom as jy hierdie soort gedagtes vir jouself probeer hou. Ek praat ook met my selgroep by die kerk en ek kry baie ondersteuning van my naaste. Ek probeer ook gesond eet, oefeninge doen en genoeg slaap, maar elkeen se situasie is anders en hierdie is nie die enigste manier om dit te verwerk nie.”

Muller sê dit is ligter om die las van depressie saam met mense te dra, anders gaan jy net swaar dra op jou eie. “Dit maak jou van binne af dood as jy dit alleen probeer dra,” sê hy.

“Dit is ook die boodskap van die liedjie, dat daar ʼn uitweg is. Dit gaan oor hoop en lig aan die einde van die tonnel.”

“Nuwe horison” word Donderdag, op Nasionale Geestesgesondheiddag, bekendgestel sodat bewustheid geskep kan word oor angs, depressie en ander geestesversteurings wat mense van binne af opvreet.

Len Muller (Foto: Facebook)

“Die liedjie is geskryf vir mense wat ook so voel soos ek, en wat ook worstel met die donker wolk waaruit ʼn mens nie altyd weet hoe om te kom nie. Ek wil hê hierdie liedjie moet hoop in daardie mense wat in donker plekke is se lewens bring. Daar is opsies, jy is nie alleen nie, daar is hulp en maniere om daaruit te kom,” sê hy.

Muller sê hy hou deesdae aan die Here vas in sy worsteling met dié toestand. “Dit is ʼn belofte wat ek aan my Skepper maak; dat ek daaruit sal kom. Hy sal my nooit verlaat nie, en sy stem bemoedig my om daardeur te kom,” sê hy.

Hy sê hy hoop dat “Nuwe horison” ʼn positiewe impak op iemand se lewe sal hê en dat dit mense kan inspireer.

“Musiek het die krag om mense se emosies en harte aan te raak. Musiek kan mense beweeg om besluite te neem om beter te word. Ek hoop dat selfs wanneer ek lank nie meer hier is nie, iemand hierdie liedjie sal hoor en dat dit op daardie oomblik hul lewe kan red.”

As jy sukkel met angs, depressie of ander geestessteurnisse en jy wil hulp kry, kontak die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid by 0800 70 80 90.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Maria ·

Verstaan….baie trots op jou dat jy weer opstaan. Sterkte voorentoe met voorspoed en geseen.

Elizabeth ·

Dis net daar kleef so ‘n stigma aan persone wat hulpmiddels gebruik.
Die geringste verkeerde voet word dan dadelik verwys na “Die persoon gebruik Antedepres”
Probeer daaruit kom. Baie donker nag.
Ek weet want ek probeer sonder hulp.

Pieter ·

Nee wat, ek praat oor my Bipolar en depressie sonder skaamte. Moontlik help ek iewers iemand, wat hom/haarself in n donker gat bevind. En ek gebruik, hulpmiddels om my stabiel en op die reguit pad te hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.