Sanger sterk aan ná beweerde selfmoordpoging

Rudi Claase

Rudi Claase van die voormalige Die Lieflinge-faam, sterk by sy huis in Pretoria aan nadat hy glo oor die naweek probeer het om selfmoord te pleeg.

Claase se kantoor het Woensdagaand op sy Facebook-blad geskryf: “Baie dankie vir almal se liefde en ondersteuning, Rudi is baie beter en sterk tuis aan.”

Een van Claase se kollegas in die musiekbedryf het aan Maroela Media gesê hy het Sondag glo ʼn spul pille gedrink en een van sy polse gesny. Hy is daarna na ʼn hospitaal gehaas waar sy lewe gered is.

“Rudi is bi-polêr, en dit was die tweede keer wat hy probeer het om sy lewe te neem,” het die kollega, wat anoniem wou bly, gesê. “Hy is nou in ʼn baie moeilike plek aangesien baie media-aandag op hom is sedert dit aan die lig gekom het dat hy en sy man, Stephen Stewart, besig om te skei, en die feit dat dwelms glo die oorsaak van hul huwelik se ondergang was. Ek is net bly hy is ‘oukei’,” het die bron gesê.

Intussen stroom boodskappe van bemoediging in op Claase se Facebook-blad van talle ondersteuners wat hom aanspoor om vas te byt, gesond te word, en nog meer treffers te skryf. Claase het al talle treffers vir verskeie bekende Afrikaanse sangers geskryf, en het self bekendheid verwerf toe hy saam met Corlea Botha as die duo, Die Lieflinge, opgetree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.