Sangeres skryf liedjie spesiaal vir haar pa

Met Vadersdag om die draai en ʼn bietjie ekstra tyd op hande weens die afsondering, het die sangeres en liedjieskrywer Leandie Lombaard Bräsler besluit om ʼn liedjie, “Man soos pa”, spesiaal vir haar pa te skryf.

Leandie vertel die konsep vir die liedjie het al ʼn geruime tyd gelede by haar posgevat en dat sy nou die kans aangegryp het om die snit te voltooi. Haar pa, Johan Lombaard, is van die eerste dag dat sy besluit het om ʼn musiekloopbaan te volg, aan haar sy.

“Ek het op 12 reeds die land en selfs Namibië begin plat toer om optredes te doen en my pa ondersteun my nog altyd deur klanktoerusting rond te dra en op te stel. Hy het ook saam met my aan my vorige albums geskryf,” vertel Leandie.

“Die liedjie is maar net ʼn manier waarop ek vir hom dankie kan sê vir alles wat hy nog my lewe lank vir my doen.”

“Man soos pa” is Vrydag op alle digitale platforms uitgereik en ʼn liriekvideo vir die liedjie is ook op YouTube te sien.

“My ma, Sonja, en my pa is albei onderwysers aan dieselfde laerskool en was Vrydag by die skool doenig toe die liedjie amptelik vrygestel is. My ma het laat weet my pa was maar lekker emosioneel en tranerig,” vertel sy.

“Ek kry ook ongelooflike terugvoer en ondersteuning van my vriendinne af. Ek moet sê dit is vir my lekker om te weet dat ons as vroue ook vir mekaar kan bly raak en opgewonde wees!”

Sy vertel dit was ʼn riem onder die hart toe ʼn luisteraar tydens ʼn onderhoud met Pretoria FM laat weet het dat die liedjie haar aan haar oorlede pa laat dink.

“ʼn Pa speel ʼn baie belangrike rol in ʼn meisie se lewe en die liedjie sal altyd relevant bly. Die liedjie is ook perfek vir toekomstige bruide wat ʼn liedjie soek vir die tradisionele pa-en-dogterdans op die troue.”

Leandie (26), wat self getroud is, vorm saam met Natasha Smit deel van die Bid is Braaf-bediening, wat ten doel het om volgens die Woord van God en deur middel van getuienisse tot meisies van Suid-Afrika deur te dring en hulle aan te moedig om vir hulle toekomstige lewensmaats te bid.

“Ek bid al van ʼn jong ouderdom af vir ʼn man soos my pa,” sê sy.

Haar hele familie is baie musikaal en dus is ʼn liefde vir musiek reeds van kindsbeen af by haar gekweek. “Ek het op vierjarige ouderdom my eerste optrede gedoen en van daar af het die gogga om te sing gebyt. Ek het toe ook reeds daarmee begin eksperimenteer om liedjies te skryf, en al was dit aanvanklik eenvoudige goed, het dit my gehelp om te ontwikkel as liedjieskrywer.”

Sy sê om liedjies te skryf is haar gunstelingding om te doen. “Dit is my vorm van ontspanning en hoe ek rustig raak. Hoe meer jy dit doen, hoe beter raak jy en hoe meer geniet jy dit uiteindelik.”

Leandie sê haar gebede dat mense oral haar musiek kan hoor, is verhoor toe haar eerste enkelsnit, “Racheltjie de Beer”, vroeër vanjaar deur Universal Musiek uitgereik is.

“Ek beplan om nog aan te hou liedjies skryf en hopelik sal die beste snitte later op ʼn vollengte-album beskikbaar wees,” sê sy.

  • Leandie Lombaard Bräsler kan gevolg word op Facebook, Instagram en Twitter.
  • “Man soos pa” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.