Sangeres vertel oor haar ‘broodjie in die oondjie’

Irene-Louise van Wyk en haar man, Nick du Preez, se baba sal in September sy of haar opwagting maak. (Foto: Verskaf)

Irene-Louise van Wyk en haar man, Nick du Preez, se baba sal in September sy of haar opwagting maak. (Foto: Verskaf)

Ses maande ná haar sprokiestroue het die popsangeres Irene-Louise van Wyk opwindende nuus om met haar aanhangers te deel: Nié net het sy ʼn splinternuwe enkelsnit en musiekvideo uitgereik nie, maar sy is ook swanger.

“Behalwe verskriklik naar is ek ook baie opgewonde!” skerts die borrelde blondekop wat in September verlede jaar voor die kansel gestaan het saam met Nick du Preez.

“Wat die swangerskap betref is party dae beter as ander, maar ek sukkel baie met oggendnaarheid. Ek hou maar ʼn pakkie gemmerkoekies langs my bed,” verklap Van Wyk, wat tans 12 weke swanger is. Sy het dié nuus ook op sosiale media bekendgemaak.

Sy vertel dat sy ʼn hele tydjie lank siek gevoel het voordat ʼn vriendin haar oortuig het om ʼn swangerskaptoets te doen. “Ek het vir een of ander rede nie gedink ek kan swanger raak nie, omdat ek soveel gesondheidsprobleme het. Ek het gedink ek het griep en dat my gestel net af is.”

Van Wyk het egter ʼn tuisswangerskaptoets gedoen en is daarna dokter toe om dit met bloedtoetse te bevestig. Sy het deurentyd besluit om dit as ʼn verrassing vir haar man te hou, wat vooraf gespot het dat hy dink sy is wel swanger.

“Ek het dit heeltyd ontken. Ek het die middag nadat die dokter die swangerskap bevestig het, saam met my vriendin gery om ʼn speelpakkie, ʼn broodrolletjie en ʼn PS-sjokolade wat sê #winning te koop. Ek het dit by die huis in die oond gesit, natuurlik nou om ʼn grap te maak oor ʼn broodjie in die oondjie.

Irene-Louise en Nick du Preez op hul troudag by die Galagos-landgoed net buite Pretoria. (Foto. Verskaf)

Irene-Louise en Nick du Preez op hul troudag by die Galagos-landgoed net buite Pretoria. (Foto. Verskaf)

“Toe Nick by die huis kom het ek vir hom gevra om vir my iets in die oond te kyk, en hy moes dadelik iets vermoed het, want ek is nie iemand wat gereeld kos maak nie,” lag sy.

Sy vertel Du Preez het op en af gespring van blydskap. “Ek het destyds geweet hy is my trouman toe hy gesê het hy wil graag eendag ʼn pa wees. Dit is een van sy grootste drome. Hy het tranerig vir my gevra of ek ernstig is en gesê: ‘Ek het dit geweet!’’

Van Wyk vertel sy is bly dit kon so maklik vir hulle gebeur, aangesien sy weet hoeveel vroue daar buite smag na ʼn baba. Sy en Du Preez weet ook nog nie wat die geslag van die baba is nie.

“Vandat my ma oorlede is, het ek nog altyd gehunker na die ma-en-dogter-ding, so ek hoop heimlik dit is ʼn dogtertjie, maar ek weet ook die Here gee vir ʼn mens wat jy nodig het. Ek sal natuurlik net so lief wees vir ʼn seuntjie en sal net dankbaar wees vir ʼn gesonde baba.”

Van Wyk se ma, die bekende gospelsangeres Irene van Wyk, is in 2007 in ʼn motorongeluk oorlede. Sy vertel laggend dat Monica van Wyk, haar pa Louis, die bekende musiekpromotor, se vrou, reeds voorspel het dat dit ʼn dogtertjie gaan wees. “Sy was nog elke keer reg met vorige voorspellings, so kom ons kyk of sy die keer ook reg is.”

Van Wyk se jongste enkelsnit, “Stukkende ruite”, is onlangs bekendgestel en die musiekvideo vir die snit, wat vroeër vandeesweek uitgereik is, het reeds meer as 3 000 trefslae op YouTube. Die snit is geskryf deur die gesogte liedjieskrywer Rudi Claase en die video is deur Surika Crafford van JC Crafford geskiet.

“Ek het vir Rudi gevra om te doen wat hy die beste doen, omdat ek weet hoe goed hy is. Ek het hom gaan sien by sy huis en “Stukkende ruite” is van daar gebore,” vertel Van Wyk, wat voorspel dat dié lied ʼn nóg groter treffer gaan wees as haar vorige snit, “Is jy spyt”, wat deur Riana Nel geskryf is.

'n Skermgreep uit die musiekvideo vir haar jongste enkelsnit, 'Stukkende Ruite'.

‘n Skermgreep uit die musiekvideo vir haar jongste enkelsnit, ‘Stukkende Ruite’.

“Die liedjie is heeltemal anders as die popmusiek waaraan my aanhangers gewoond is en dit is vir my so lekker om hulle bekend te stel aan iets nuut en uniek. Mense gaan kan hoor ek kan werklik sing,” skerts Van Wyk, wat voorheen getref het met liedjies soos “Jy moet maar vergeet van my”, “Sjampanje” en “Hou jou hande van my lyf af”, saam met die kletsrymer Early B.

“Ek het aanvanklik die liedjie by Peach van Pletzen se ateljee opgeneem en daarna het ek dit oor opgeneem by Coleske Artists onder leiding van Paulo Azevedo. Dit was ongelooflik om saam met hom te werk. Dit is ook sy weergawe wat te hoor is op die musiekvideo.”

Sy vertel sy kon nie aan ʼn beter venue as haar trouplek, die Galagos-landgoed net buite Pretoria, dink om die video vir die liedjie te skiet nie. “Surika en haar span is eintlik ook trouvideograwe, so “Stukkende ruite” was haar eerste probeerslag met ʼn musiekvideo en ek dink sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt.”

Van Wyk benadruk dat sy uitsien daarna vir mense om ʼn ander kant van haar te sien. “Ek kan verskillende style doen. ‘Stukkende ruite’ is ʼn baie diep liedjie en ons almal was al in die situasie waaroor ek sing, waar iemand jou so omkrap dat dit voel of dit aan jou sny en waar jy jouself weer moet reg maak en jou hart weer moet heel maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

honourable member ·

Baie gelyk bly vir jou part. Pas jouself mooi op.

Essa ·

Baie geluk aan julle twee; bly dat julle die vreugde kan beleef. Baie voorspoed ook met die nuwe enkelsnit; dit is ‘n goeie liedjie wat jy goed sing. ?

Uncle Buck ·

Ek het ‘n hekel in in die stelling van ‘n broodjie in die oond. Van wanneer af word ‘n wonderlike geskenk van uit die hand van die Allerhoogste met ‘ broodjie vergelyk. Vra maar net

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.