Sangeres vertel in liedjie oor seer ná broer se dood

‘n Skermskoot uit die video

Veertien jaar nadat die sangeres Angel de Lange se broer in ʼn fratsongeluk uit die lewe geruk is, bly dié seer steeds ʼn daaglikse werklikheid. Daarvan getuig haar jongste enkelsnit, “Ek huil oor jou”.

De Lange vertel Woensdag aan Maroela Media die lirieke van dié snit, geskryf deur Rudi Claase van Lieflinge-faam, het haar “in trane” gehad toe sy dit die eerste keer gelees het.

“Ek huil oor jou” is volgens haar ʼn liedjie wat talle harte sal roer. “Ons almal ken hartseer in al sy verskillende vorms,” sê sy. “Ek glo ons almal kan vereenselwig met die woorde, omdat daar min van ons is wat nog nié deur hartseer of tragedie getref is nie. En in baie gevalle is musiek een van die vele maniere waarmee ons dinge hanteer, daarom hoop ek dié liedjie beteken iets vir iemand.”

Die sangeres se broer is in 2004 in Delmas in Mpumalanga dood toe ʼn vragmotorband ontplof het toe hy besig was om die band om te ruil. Hy is op slag dood. “Hoewel die liedjie my aan die dood van my broer herinner, kan mense uit verskillende verwysingsraamwerke met die lirieke identifiseer. En dis die wonder van musiek; jy kan jou eie storie daaruit haal, jy kan jou eie verhaal daarin identifiseer.”

De Lange se album word op 18 Mei bekendgestel. Sy sê dié album bevat egter ook opwindende en prettige liedjies. Een van dié snitte is “As hy my verneuk”, ʼn snit wat die sangeres se eks-verloofde, Manie Jackson, spesiaal vir haar geskryf het.

“Die liedjie is baie tong-in-die-kies,” vertel sy. “Dit gaan oor hoe sommige vroue mans soms verdink van verneukery wanneer dit glad nie die geval is nie. Ek dink die ouens gaan lekker lag en die vroue gaan die stories in die lirieke herken.”

Die musiekvideo vir “Ek huil oor jou” is op 4 Mei amptelik uitgereik. Vir meer inligting besoek haar amptelike Facebook-blad. Die sangeres se album kan vooraf bestel word op iTunes, of klik hier. Hou Maroela Media dop vir ʼn volledige ateljee-onderhoud oor dié album.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannelie ·

My hart is so seer vir Angel se part. Ek weet hoe sy voel, ek het ook my broer verloor, 12 jaar gelede. Dit is en bly seer. Hy was een van die 6 mense wat verongeluk het naby Robertson. Sy kruis is al wat ons herinner aan die dag wat hy weggeruk is uit ons lewens. Sterkte Angel.

Lee ·

Ek deel ook jou hartseer. Dis iets wat altyd by mens bly. My boetie is die jaar 3 jaar terug dood in ‘n trok ongeluk en dit voel elke dag soos gister. Jou liedjie is pragtig!

VanAfrika ·

My baba seuntjie is 19 April 23 weg en my ousus 13 Mei ook 23 jaar weg. Het hulle altwee binne minder as n maand verloor en het die mat totaal onder my voete uitgeruk

Cheryl ·

Dis absoluut pragtig, het self ook 2 broers aan die dood afgestaan, dit word beter maar die verlange gaan nooit weg nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.