Sangers sê oor gunsteling-Kersfeestradisies

Maroela Media het by ʼn handjievol Afrikaanse sangers aangeklop om uit te vind wat hulle gunsteling-Kersfeestradisies is.

Len Muller

Len Muller. (Foto: Lens Flare)

Die musikant Len Muller, bekend vir liedjies soos “Heildronk”, “Toevlug” saam met die musikant Stella, en die temalied van die kykNET-reeks Mense mense, vertel aan Maroela Media sy gunsteling-Kersfeestradisie is om tyd saam met sy familie deur te bring.

Muller en sy vrou, Chanel, het vroeër vanjaar ouers geword van ʼn skattige seuntjie.

“Oukersdag en Kersdag is die twee dae in die jaar waar jy by familie kan stilstaan, wanneer jy nie op die pad is nie en wanneer jy nie tyd op kantoor of op die verhoog deurbring nie,” sê Muller.

“’n Mens kry nie altyd deur die jaar tyd om by jou familie uit te kom nie en daarom is dit belangrik om tydens die Kerstyd tyd te maak vir jou familie.”

Muller, ʼn bekroonde musikant, beskryf sy jongste album, Oorgenoeg, as ʼn getuienis van die seisoen waarin sy lewe tans is.

Muller het in Desember verlede jaar in die Maroela Media-ateljee gesels oor dié album.

“Ek probeer so eg as moontlik wees met die skryf van my albums en met Oorgenoeg het ek gemerk dat daar soveel seën, guns en genade in my lewe is,” het hy destyds gesê.

“Ek en Chanel beleef tans die beste seisoen van ons lewens en ons is baie gelukkig. Die album getuig hiervan en vra juis die vraag oor wat vergenoegdheid vir jou is, en waar jy jou vreugde en jou ‘genoeg’ vandaan kry. Ek glo familietyd en gesondheid, veral ná die jaar wat ons gehad het, is die ware rykdom.”

Mari Bosman

Mari Bosman.

Die Afrikaanse folksangeres Mari Bosman sê dat die Kersseisoen vir haar die lekkerste tyd van die jaar is – veral omdat sy dan haar familie by haar kan hê.

“Ons almal bly ver van mekaar, van Kaapstad tot Pretoria en selfs Duitsland,” sê Bosman, wat in November verlede jaar in die Maroela Media-ateljee gesels het oor haar ballade getiteld “Meer”.

ʼn Kerstradisie wat haar na aan die hart lê is Kersmusiek, sê sy. “Ek is mal daaroor om in hierdie tyd Kersliedjies soos Lize Beekman se “Sonneblom uit Bethlehem” akoesties te speel by optredes. Mense raak nostalgies en besef weer waaroor Kersfees eintlik gaan.”

Die kreunende kostafels is ook vir Bosman ʼn groot Kerstradisie. “’n Mens eet darem maar baie lekker op Kersdag. Dit is beslis ʼn tradisie wat ʼn mens weer dankbaar laat voel vir alles wat jy het.”

Caroline-Grace

Caroline-Grace.

Die sangeres en ma van twee jong spruite, Caroline-Grace, het vroeër vanjaar ʼn enkelsnit getiteld “Breek” uitgereik.

Sy het ook einde vanjaar tyd gemaak om haar gunsteling-Kersliedjie, “White Christmas”, op te neem en saam met Universal Musiek uit te reik as deel van ʼn reeks van 12 Kersliedere deur van die land se talentvolste Afrikaanse sangers.

Caroline-Grace vertel aan Maroela Media haar gunsteling-Kersfeestradisie is om op Oukersaand saam met haar familie ʼn gedeelte uit die Bybel te lees voordat haar pa sy kitaar uithaal en hulle as familie saam ʼn paar Kersliedjies sing en geskenke oopmaak.

“Op Kersdag sal ons almal as familie saam ʼn groot ete geniet, van gerookte ham tot boud tot tradisionele boereboontjies en aartappels. Die ete word natuurlik afgerond met ʼn heerlike Kersfeesnagereg,” sê Caroline-Grace, wat getroud is met die voormalige Springbokrugbyspeler Heinrich Brüssow.

“Daar heers ook elke jaar groot opwinding wanneer ons die beplanning doen vir die Kerstafel, wat ons so pragtig as moontlik laat lyk. Vir ons is samesyn as familie en om mekaar net lief te hê baie belangrik in die Kersseisoen.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.