Sangers span weer saam vir duet – dié keer vir droogte

Bok van Blerk en Robbie Wessels (Foto: Instagram)

Soms besing hulle die kurwes van ʼn mooi vrou wat rondrits in ʼn ’68 Chevy en ander kere die nuanses van ʼn “leeuloop” in ʼn kroeg in Parys. Nou span die Afrikaanse sangers Bok van Blerk en Robbie Wessels weer saam – dié keer vir ʼn liedjie oor die droogte.

Luidens ʼn verklaring van die sangers se platemaatskappy beloof dié liedjie om “Suid-Afrikaanse harte ewe diep te roer as die genadelose droogte” wat groot dele van die land op sy knieë het.

Die enkelsnit, getiteld “Die sluise van die hemel”, is deur Wessels geskryf. Die musiekvideo van die liedjie word op 2 Maart op kykNET se Top 20-musiekprogram bekend gestel.

Wessels vertel hy het dié liedjie geskryf omdat die droogte – met ʼn spesifieke fokus op die Kaapse droogte – hom na aan die hart lê. “Dit is nie ’n liedjie waaroor ek lank moes dink toe ek dit geskryf het nie, want dit was asof dit van bo af vir my gestuur is,” vertel hy. “Ek dink dit het gespruit uit my liefde vir die Kaap, en al is ek nie daar om die moeilike tyd saam met die Kapenaars te beleef nie, gaan my hart uit na die mense daar.”

Bok, ʼn jare lange vriend van Wessels, vertel dié liedjie gaan veral mense roer wat direk deur die droogte geraak word. “‘Die sluise van die hemel’ praat elke keer met my as ek daarna luister. Ek is seker hierdie liedjie gaan met die mense van Suid-Afrika ook praat en jou siel aanraak,” sê hy.

Die sangers sê dit was groot pret om weer saam in die opnameateljee te wees. Wessels meen dié opname was veral ʼn spesiale duet omdat dit ʼn boodskap dra wat wil “hoop gee in moeilike tye”.

“Dit was vir my ’n groot voorreg en baie sports gewees om weer saam met Bok te werk. Ons geniet mekaar se geselskap en daarom is dit lekker om saam met hom te sing ook. Ek dink baie mense wat by Bok se musiek aanklank vind, vereenselwig hulle ook met my musiek en daarom werk ons stemme lekker saam.”

Die liedjie is ook ʼn metafoor vir ander droogtetoestande in aanhangers se lewe – of dit nou verlies of hartseer is. “Selfs al is droogte nie nou vir jou ’n krisis nie, was jy al moontlik in ’n droogtesituasie of die een of ander natuurramp waar jy net vir God se genade kon bid vir ingryping. Al het ons baie verskille, hou ons daarvan om saam te staan in tye van nood,” sê Van Blerk.

Die sangers wil nog nie meer oor die musiekvideo verklap nie, maar sê dit beloof om “treffend” te wees.

Wessels en Van Blerk het vantevore al duette uitgereik soos “Ons vir jou Suid-Afrika”, “Go Bokke!” en “Ek en my vlerk”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.