Sangervriende tref met dekade-oue liedjie

Ruan Xen en Casper Stone sing saam die liedjie ‘Mis jou nie’. (Foto: Verskaf)

Byna ʼn dekade nadat die musikante Ruan Xen en Casper Stone saam begin musiek maak het, het hulle eerste gesamentlike enkelsnit uiteindelik die lig gesien en dit is hartlik deur Afrikaanse musiekgehore verwelkom.

“Mis jou nie” is uit Ruan, ʼn beroepsmusikant en musiekonderwyser, se pen. Hy het dié liedjie reeds in 2012 die eerste keer vir Casper gespeel, wat dadelik besluit het dit klink soos ʼn treffer.

Ná verskeie pogings om die liedjie perfek na hulle sin te vermeng en verwerk, het Casper en Ruan moed opgegee en die liedjie het onder in die laai beland.

Toe Casper, wat intussen ʼn loopbaan as sielkundige in Pretoria opgebou het, in Mei vanjaar ʼn kortspeelalbum getiteld Raw Reflections wou uitreik, het hy besluit dat ʼn Afrikaanse snit gepas sal wees op dié album.

Hy het sy ou sangmaat en vriend gekontak en hulle het saam nuwe lewe in die snit geblaas. Dit is tans op al wat ʼn radiostasie is te hoor en word gereeld op verskeie digitale platforms gestroom.

“Ons is geneig om oor die algemeen te fokus op die pyn nadat ʼn verhouding tot ʼn einde kom, maar wat soms meer uitstaan, is die verligting, en dan ook die bittersoet oomblik wanneer mens besef dat die ervaring nie doelloos en leeg was nie, maar wel ʼn deel uitmaak van die pad van albei partye se lewe,” verduidelik Ruan die tema van die liedjie.

“In plaas van om dit onder die mat in vee, wou ons erkenning gee aan die ervaringe en die lesse wat ʼn mens leer deur die refleksie van ʼn ander. Spyt hoef nie regtig ʼn faktor te wees in die groter prentjie nie,” voeg Casper by.

Casper en Ruan het mekaar in die vroeë 2000’s as jong musikante ontmoet. Hulle het albei in verskeie musiekgroepe opgetree en was deel van die sogenaamde MK-beweging in Afrikaanse alternatiewe musiek.

Die twee het besluit om saam in restaurante en op troues en funksies te speel om ʼn ekstra inkomste te verdien. Hoewel hulle meestal bekende liedjies gesing het, het hulle ook hulle eie musiek geskryf en gespeel.

Uiteindelik het hulle lewens afsonderlike draaie gemaak, maar tydens die inperking het Casper besluit om sy sangloopbaan weer op dreef te kry met die opname van ʼn kortalbum.

“Ek wou graag ʼn Afrikaanse liedjie insluit op die album wat hoofsaaklik Engels is. ‘Mis jou nie’ is nog altyd vir my ʼn besonderse Afrikaanse liedjie en ek wou graag daarin belê en dit saam met Ruan aanpak. Ons het nou uiteindelik die emosionele volwassenheid om die liedjie tot sy volle reg te laat kom,” vertel Casper aan Maroela Media.

“Ek het vroeg al besef ek sal nooit kan ophou musiek maak nie; so ek verdeel my dae sodat ek in die oggend musiek maak en in die middae by die praktyk is, of anders om. Ek is in ʼn private praktyk en kan dus dae afneem om aan musiek te wy. Ek glo ek is in ʼn baie bevoorregte posisie.”

Casper sê sy beroepe as sielkundige en musikant vul mekaar aan, aangesien hy as sielkundige deurlopend met emosionele inhoud werk.

“Dit hou jou brein aan die gang met goed om oor te skryf en met wat in die wêreld aangaan.”

Ruan bieg op sy beurt dat hy as musiekonderwyser heeldag na musiek in verskeie vorme luister en dat hy soms na ʼn bietjie stilte verlang.

“Om ʼn musikant te wees, is ʼn roeping en jy het dit in jou of nie. Soms jaag die musiek jou na in plaas daarvan dat jy dit najaag. Om ʼn musikant te wees, is nie iets wat jy uit niks kan bou nie, maar jy kan dit versterk.”

‘Mis jou nie’ verskyn in Casper Stone se kortalbum, “Raw Reflections”. (Foto: Verskaf)

Hulle vertel hulle het die laaste ruk gereeld byeengekom om saam die liedjie te oefen en aan nuwe musiek te begin werk.

“Al het ons lewens vir ʼn lang ruk uiteenlopende paaie geloop, het die musiek ons weer bymekaar gebring.”

Die musiekvideo vir die liedjie is geskiet deur Heinz Boesenberg en die regie is deur Rein Engelbrecht hanteer.

Anke Rothman, ʼn model en sangeres, vertolk die hoofrol in die video. “Ek wou hê die lig en donker van die video moet simbolies wees van die innerlike ervaring. Ons het ook met verskillende teksture en sintuie gewerk,” sê Ruan.

Hoewel die hele span van die musiekvideo daarna platgetrek is deur Covid-19, het almal deurgetrek en is nou weer gesond. Die blondekop Anke, wat in die video verskyn, het die virus vrygespring.

“Ons het na iemand met ʼn sekere voorkoms gesoek en was dadelik mal oor Anke oor haar krulhare. Sy het egter op die dag wat ons die video geskiet het haar hare reguit gemaak, en sy was steeds net so beeldskoon. Ons het haar voor die tyd ontmoet om seker te maak sy het ʼn persoonlikheid waarmee ons kan werk.”

Casper en Ruan is albei “dankbaar” dat die liedjie uiteindelik vlerke gekry het. “Die liedjie pas perfek in die Afrikaanse musieklandskap, maar is gelyktydig ook vars en uniek. Liriekgewys is dit anders as wat ons al ooit gehoor het.

“Die liedjie het baie vinnig vir ons gewys dat ons belegging daarin nie vrugteloos gaan wees nie. Hoe meer ʼn liedjie blootgestel word, hoe meer begin die liedjie ʼn lewe van sy eie aanneem en dit is beslis wat hier gebeur.”

“Mis jou nie” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.