Sangkompetisie help aspirantsangers

William Wolf (Foto: Verskaf)

Vir die tweede jaar stuur die sanger en liedjieskrywer William Wolf sy Droomdag-kompetisie van stapel, om ʼn jong sanger te help om ʼn voet in die deur van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te vind.

Ná ʼn suksesvolle eerste aflewering van die kompetisie, waarin Carmen Basson gewen het, het William dit goedgedink om wéér die kompetisie saam met die bekendstelling van sy jongste album, Liefde Gemaak, af te skop.

Die Droomdag-kompetisie behels dat aspirantsangers hul eie weergawe van William se jongste lied opneem en dit as ʼn kommentaar op sy Facebook-inskrywing plaas. ʼn Paneel van beoordelaars sal dan na al die video’s kyk en op ʼn wenner besluit.

Die wenner van die kompetisie kry ʼn liedjie, geskryf deur William Wolf, wat professioneel deur Sony Select opgeneem word. Hulle wen ook ʼn musiekvideo en bemarkingspakket. Die waarde van die prys beloop sowat R60 000.

William sê die Droomdag-kompetisie lê hom na aan die hart, omdat hy weet hoe moeilik dit kan wees om die musiektoneel binne te dring.

“In Suid-Afrika is die mark klein en almal gun nie altyd vir almal hul ruimte daarin nie. Ek dink ons moet ʼn nuwe manier kry om daaraan te dink en mekaar help waar ons kan. Ek is mal daaroor om deel van iemand se reis te wees,” sê hy.

William sê hy wens hy het hierdie soort blootstelling, ondersteuning en opvoeding gehad toe hy nog nuut in die bedryf was.

“Daar is niks soos goeie blootstelling as jy nog ʼn nuwe sanger is nie. Daar is klomp mense wat kan sing daar buite, dit weet ons almal, maar jy het jou eie persoonlike en professionele materiaal nodig om raakgesien te word. Hierdie kompetisie sluit dit alles in, so daar is geen rede vir iemand om nie in te skryf nie.”

William stel ook saam met die kompetisie sy jongste album en liedjie, “Liefde Gemaak”, bekend.

“Hierdie album is ietwat anders as die res. Dit bevat ʼn vars klank, maar met ʼn pop-element. Dit klink internasionaal, maar dit is in Afrikaans. Ek is opgewonde om te hoor wat mense dink.”

William skryf al vir jare musiek vir sangers soos Brendan Peyper, Pieter Koen en Willem Botha. Sommige van die liedjies op Liefde Gemaak het hy reeds tien jaar gelede geskryf.

“Ek het gewag vir die perfekte oomblik en ek voel asof dit nou die beste tyd is om hulle bekend te stel. Ek is meer gereed as ooit tevore om my reis te deel en te gesels oor wat in my hart aangaan, en dit is wat die album doen.”

Skryf hier in vir die Droomdag-kompetisie. Die musiekvideo vir “Liefde Gemaak” word vandag eerste op Maroela Media bekendgestel. Kyk die video hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.