‘SA’s Got Talent’ se Henno William hou konsert

Henno William. Foto: Verskaf

Henno William. Foto: Verskaf

Die SA’s Got Talent-kinderster Henno William is op 28 Maart in ʼn spesiale familiekonsert in die Centurion-teater in Pretoria te sien.

Henno was die eerste deelnemer aan dié program wat die sogenaamde “golden buzzer” gekry het. Dié goue knoppie word een keer in ʼn reeks aan ʼn beoordelaar toegeken en verseker dat ʼn deelnemer direk kan deurbeweeg na die top-tien.

Henno sing al sedert van die ouderdom van ses jaar. Toe sy ouers besef het watter besonderse talent hy het, het hulle hom op tien vir professionele stemopleiding gestuur. Dit is egter eers ná sy betrokkenheid op SA’s Got Talent dat hy roem verwerf het.

Tydens die konsert in Centurion reik Henno ook sy eerste enkelsnit, “Beauty Queen”, uit. “Dis ʼn ballade en gaan oor ʼn meisie oor wie ek baie mal is. Ek het haar in 2015 op Valentynsdag uitgevra en later uitgevind sy wou eerder saam met die ander outjie uitgegaan het wat haar ook uitgevra het. Ek was baie seergemaak en dis hoekom ek die liedjie geskryf het,” sê hy.

Die sangeres Bianca le Grange het Henno beskryf as iemand met hope talent. “Dis ʼn ongelooflike mooi stuk musiek. Die lirieke is pragtig en boeiend. Ek sien daarna uit om hom op die radio te hoor.”

“Beauty Queen” gaan binnekort op iTunes, Amazon, Deezer, eMusic en Simfy Africa beskikbaar wees.

Die konsert in die Centurion-teater op Maandag 28 Maart begin om 15:00. Kaartjies kos R90 by Computicket. Die teater is by Amkorstraat 123, Centurion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.