Seerower- Kurt Darren

seerowerDie afgelope jaar was ‘n moeilike tyd in Kurt Darren se lewe, maar hy kon nogtans sy jongste CD, Seerower, betyds vir die Kersmark vrystel.
Die titelsnit is reeds ‘n groot treffer en word op die meeste radiostasies gehoor. Hoewel baie mense al seker keelvol daarvoor is, moet ‘n mens erken dat die lirieke baie slim is, en dat dit maklik is om te verstaan hoekom dit so gewild geword het. Kurt het die volgende snit, Vlamme van liefde, saam met Emil Struwig geskryf, en dit kan een van die treffers vanaf die album word. Pêrel van die Paarl is ‘n spanpoging deur die twee grootbase van Select Musiek, wat onder die skuilname Marc Brendon en Don Kelly skryf, Pierre Rossouw en Neil Schoombee. Hier is nog ‘n snit wat besliste treffermateriaal is.

Winterwasemharte is al vrygestel voordat die album uitgereik is, en dit sal seker by die meer romantiese siele byval vind. Goud of diamante is nog ‘n komposisie van Emil Struwig, en die woorde laat ‘n mens dink oor wat ‘n vrou regtig van die man in haar lewe verwag. Rudi Claase het al vir verskeie kunstenaars liedjies geskryf en baie daarvan het groot treffers geword. Hoe later hoe kwater is Rudi se bydrae tot hierdie album. Daar is ‘n paar nonsens-woorde in dié liedjie en dit klink baie na Oppie water, wat Rudi self geskryf en gesing het, maar dit sal nie maak dat dit nie ‘n treffer word nie.

Die jongste treffer vanaf die album is Rebel en rats, wat Kurt saam met Emil Struwig geskryf het. Daar is geen rede hoekom dit nie in die voetspore van die titelsnit kan volg nie; die lirieke sal jou laat verlang na jou kinderdae. Die meeste snitte op die album was tot dusver daarop gemik om die dansvolere vol te kry, maar op Emil Struwig se komposisie Beautiful (‘n Afrikaanse liedjie ten spyte van die Engelse titel) wys Kurt dat hy ook ‘n rustige ballade kan sing. Kurt se vroulike aanhangers sal mal wees oor hierdie liedjie! Daar is een groot verrassing op die album, naamlik ‘n baie goeie weergawe van Fine Young Cannibals se groot treffer She drives me crazy. Kurt se weergawe klink omtrent glad nie soos die oorspronklike een nie, en dit is dalk een van die hoogtepunte op die album. Kurt stel sy vokale reikwydte baie goed ten toon op hiedie snit. Soos ‘n dief in die nag (dit maak my mal) is nog ‘n goeie snit wat ‘n treffer kan word.

My platteland-prinses het ‘n effense akoestiese klank wat dit van die res van die album onderskei, en dis goed om Matthys Maree se trekklavierspel hierop te hoor. Dit sal goed wees as Kurt al hoe meer in hiedie rigting kan beweeg. Ek en jy is ‘n lekker snit wat veral by jonger luisterars byval sal vind. Twee snitte op die album word op ‘n bestaande wysie gesing maar met Afrikaanse woorde. Die wysie van As jy my ooit sou vra sal dadelik bekend klink. Die ander een is Gaan tekere, wat beslis die optensiaal het om ‘n treffer te word. Kurt is die afgelope jaar getroud, en daarom is dit glad nie ‘n verrassing dat hy die laaste snit, Sal jy met my trou, ingsluit het nie. Die manne wat sukkel om die “groot vraag” te vraag, kan maar hiedie liedjie vir die vroue in hul lewens speel.

Hoewel Kurt deur die jare baie kritiek moes verduur omdat hy elke jaar ‘n nuwe CD vrystel en omdat sommige van die liedjies wat hy in die verlede opgeneem het, so gereeld oor die radio gespeel is dat ‘n mens skoon keelvol daarvoor geword het, moet ‘n mens erken dat Kurt hierdie keer die kol getref het. Daarom is die feit dat hy nog nie dieselfde hoogtes kon bereik as wat sommige van sy vorige albums gedoen het nie, ‘n raaisel. Aan die ander kant word die amptelike Suid-Afrikaanse trefferslys, gebaseer op werklike albumverkope, oorheers deur ‘n paar versamelalbums wat dit onmoontlik maak vir ‘n oorspronklike album om die eerste plek te bereik. Hoe ook al, hierdie album het die potensiaal om nog lank gewild te wees en om baie treffers op te lewer. Dit behoort nie vir Kurt nodig te wees om aan die einde van vanjaar weer ‘n album vry te stel nie, want dit gaan nog lank duur voordat hierdie album tot sy volle reg sal kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.