Seisoene in die son – Adam Barnard

Foto: Facebook.com

Foto: Facebook.com

Sedert die gewilde mansgroep Romanz ontbind het, het al vier lede elk suksesvolle solo-albums vrygestel.

Adam Barnard se Christelike album, Ruk my tot stilstand, het die groot treffer, “Hy is”, opgelewer en nou is hy terug met sy eerste sekulêre album, Seisoene in die son. Adam het die titelsnit geskryf en dit is reeds ʼn groot radiotreffer.

“Jy’s die rede” is nog een van sy eie komposisies en weereens is dit ʼn moontlike radiotreffer. Stass is die leier van die Christelike groep, Onbeskaamd en hy het “Veg vir jou” geskryf. Stass was ook verantwoordelik vir die pragtige snit, “Asem in”; nog ʼn snit wat verdien om oor die radio gespeel te word.

Adam het ook ʼn paar bekende snitte ingesluit. Die eerste een is ʼn baie goeie weergawe van Steve Hofmeyr se bekende treffer “Engele om ons”. Adam se weergawe is net so goed soos die oorspronklike een, indien nie beter nie. In die 1970’s het die Franse sanger Charles Aznavour ʼn internasionale treffer met “She” gehad en Elvis Costello het dit vir die klankbaan vir die rolprent Notting Hill opgeneem. Maak nie saak wie dit sing nie; dit bly ʼn baie mooi snit.

Adam en Stass het onder meer saamgespan vir een van die beste snitte op die album, “Woorde tussen jou en my”. As daar een snit is wat ʼn treffer behoort te word, is dit hierdie een.

Die afgelope vyftien jaar of wat is Coldplay een van die suksesvolste groepe op die internasionale musiektoneel en Adam het besluit om hul treffer “Fix you” in te sluit.

“Dans in die reën” is nog een van Adam se eie komposisies en seker die enigste snit op die album met ʼn Christelike inslag. Nogtans behoort dit ook ʼn treffer te word.

Jim Steinman se komposisie “It’s all coming back to me now” is oorspronklik deur die vrouegroep Pandora’s Box en later deur Celine Dion opgeneem; Adam se weergawe is die eerste een deur ʼn manlike kunstenaar. Ongelukkig sing hy nie die hele liedjie nie; eerder die geredigeerde weergawe van Celine Dion wat oor die radio gespeel is. Dit sou beter gewees het as hy die hele een gesing het.

Die laaste oorspronklike Afrikaanse snit op die album is Stass se “Tafelberg” en Tertia Hendricks se harmonieë op hierdie snit klink baie mooi. Die laaste snit op die album is Adam se weergawe van Sarah McLachlan se “Angel”, nog een van die snitte wat altyd mooi sal bly. Daar word nie gesê wie saam met Adam sing nie, maar ʼn mens kan aanneem dat dit Tertia Hendricks is, omdat sy in die agtergrond op die album sing. Hoe ook al; dit klink baie goed.

Soos wat ʼn mens al in die dae van Romanz agtergekom het, kan daar geen twyfel oor Adam se talent bestaan nie. Hierdie album handhaaf ʼn goeie balans tussen bekende en oorspronklike snitte en dit behoort by ʼn breë gehoor byval te vind. Daarom kan dit baie sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.