Selfs gehoorverlies kon nie haar musiekdroom kelder

Alida het onlangs ook haar derde enkelsnit “Nog ‘n kans” uitgereik. (Foto: Alida Music SA/Facebook)

As God ʼn doel met jou lewe het, gaan geen struikelblok of persoon jou verhoed om daardie doelwit te bereik nie.

Dít is die getuienis van die sangeres Alida Luus wat as kleuter reeds van ʼn sangloopbaan gedroom het. Tog het dit gelyk of gehoorprobleme daardie droom in ʼn stadium heeltemal sou kelder.

“Ek het in gr. 1 my heel eerste ooroperasie gehad en daarna het nog 23 ander prosedures gevolg. ʼn Volle 12 van hierdie operasies het in slegs een jaar tussen gr. 1 en gr. 2 plaasgevind,” vertel Alida.

Haar oordromme het gebars terwyl sy in die swembad baljaar het en ʼn oorspesialis het bepaal dat sy dreineringspypies (grommets) moet kry. Die prosedure het ongelukkig nie permanent gehelp nie, want dit het kort-kort uitgeglip en dan moes daar weer nuwes ingesit word.

Op 12-jarige ouderdom het Alida egter vir haar ma gesê sy sukkel nou erg om te hoor. “My ma moes op my skree om my aandag te kry, of aanhoudend herhaal wat sy gesê het en die televisie moes kliphard gestel wees voordat ek die uitsending kon volg.”

Een van die land se top-oorspesialiste het bevind haar gehoor verswak en dat die skade permanent is. Die beentjies in haar ore was aan’t verbrokkel. Dit was ook die rede vir haar aanhoudende oorpyn.

Die beentjies kon met kunsmatige beentjies vervang word, maar dit sou nie haar gehoor herstel nie – ʼn geweldige terugslag vir ʼn jong meisie wat daarvan gedroom het om die wêreld met haar sang te verower.

Alida sê in die twee weke voor die operasie het sy gebid. “Ek het vir almal gesê die Here sal nie vir my ʼn talent gee en dit op hierdie manier wegneem nie. Ek het net geweet ek moet sing, en die Here gaan my genees.”

Tog het almal vir Alida op die ergste probeer voorberei.

“Ek het geweier om te ‘hoor’ wat hulle vir my sê, want ek het geglo.”

Die laaste skanderings voor die operasie het gewys Alida se ore het heeltemal herstel en daar was selfs geen bewyse dat sy ooit gehoorprobleme gehad het nie.

Vandag kan Alida getuig en vir mense vertel God het haar genees.

Op hoërskool kon sy uiteindelik sanglesse begin neem en as gr. 9-leerder het sy saam met vier ander tieners deel geword van Victory 5, Suid-Afrika se eerste tienerpopgospelgroep.

“Dit was die lekkerste tyd van my lewe. Ek het toe vir die eerste keer die kans gehad om net ʼn kind te wees en my passie uit te leef.”

Alida is tans ʼn derdejaaronderwysstudent in die grondslagfase wat aan die Noordwes-Universiteit studeer.

Skool was nie altyd ʼn maklike ervaring vir haar nie, want sy is op laerskool oor haar sangdroom gespot. Haar gehoorverlies het ook aanvanklik leerprobleme veroorsaak, en sy was dikwels siek wat beteken het dat sy baie skooldae misgeloop het. Later is sy ook geterg omdat sy deel van ʼn gospelgroep was.

Alida glo egter dat sy as onderwyseres ʼn verskil in kinders se lewe kan maak. “Ek wil graag met kinders werk wat voel hulle pas glad nie in op skool nie. Elke kind het maar iets waarmee hy of sy sukkel, maar ek weet dit kan oorkom word. As ek ʼn verskil in so ʼn kind se lewe maak, het ek my doel op aarde bereik.”

Alida saam met die akteur, sanger en radio-omroeper, Francois van Rensburg, in ‘n skermgreep uit haar jongste musiekvideo. (Foto: Alida Music SA/Facebook)

ʼn Splinternuwe folk-rock-snit

Tussen die studie deur het Alida pas haar derde enkelsnit, “Nog ʼn kans”, uitgereik en boonop ook ʼn musiekvideo daarvoor laat vervaardig. Sy beskryf dit as ʼn folk-rock-liedjie wat pasgemaak is vir haar ryk rasperstem.

Roux Cloete het haar gehelp om die lied te skryf, wat gaan oor ʼn vrou wat alles in die stryd werp om haar verhouding te laat werk. “Ek is baie trots op die snit omdat ek dit aanvanklik heeltemal op my eie geskryf het. Roux het my gehelp om dit te toonset en om alles mooi te laat vloei.”

Hoewel dit ʼn liefdeslied is, het dit op veel meer betrekking as net die liefde, só glo Alida. “Ek glo dat mense van alle ouderdomme by die tema sal kan aanklank vind.”

  • Alida het telefonies met Maroela Media gesels oor haar getuienis van hoe haar gehoor wonderbaarlik herstel het. Sy vertel ook meer oor haar jongste musiekvideo wat vir die snit “Nog ʼn kans” gemaak is. Luister na die volledige onderhoud boaan hierdie berig.

Volg Alida by:

Kyk die musiekvideo van “Nog ʼn kans” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.