Selfs hoër hoogtes wink vir Ndlovu-jeugkoor

Foto: @ChoirAfrica/Twitter

Dit blyk nog lank nie die einde van die pad na sterstatus vir die Ndlovu-jeugkoor te wees wat vanjaar reeds diep spore in die harte van Suid-Afrikaanse aanhangers met hulle koormusiek getrap het nie.

Die jeugkoor van Limpopo het daarin geslaag om ʼn platekontrak los te slaan en boonop sal ʼn enkelsnit van een van hulle gewildste liedjies ook binnekort uitgereik word.

Dr. Hugo Tempelman, stigter van die Ndlovu-omgeegroep wat die koor se belange behartig, het Donderdagmiddag aan Maroela Media bevestig dat Simon Cowell ʼn musiekkontrak vir die jeugkoor gereël het. Cowell is bekend daarvoor dat hy een van die strengste beoordelaars van die talentsoekkompetisies American Idol en America’s Got Talent is.

“Dit is ʼn kontrak wat oor ʼn termyn van meer as vyf jaar sal strek en ʼn reeks van albums insluit.

“Verder kan ek ook nog bevestig dat ons in ʼn gesprek met die platemaatskappy Sony Sweden die saak beklink het om ʼn enkelsnit van die Sweedse platejoggie Kygo se weergawe van “Higher Love”, wat die koor gesing het, so gou moontlik beskikbaar te stel.”

Koorlede het in Junie die beoordelaars van die talentsoekreeks America’s Got Talent vir die eerste keer met hulle weergawe van “My African Dream” bekoor. Hulle het daarna tot die toptien van die reeks deurgedring, maar kon nie daarin slaag om die vyf topfinaliste te haal nie.

Ndlovu is egter vroeër vandeesmaand op die Internasionale Lughawe OR Tambo terugverwelkom soos sportsterre wat goue medaljes ontvang het ná die koor se vertonings oorsee.

Tempelman het aan Maroela Media gesê hy dink nie dié jeugkoor het al heeltemal besef wat die kontrak vir hulle sal beteken nie.

“Kyk, hulle weet iets groots het gebeur, maar ek dink nog nie hulle besef al werklik hoe groot dit is nie. Hulle is opgewonde en die tuiskoms was so oorweldigend positief vir die koor.”

Die jeugkoor het Maandag ʼn verwelkomingspartytjie saam met 3 000 lede van hulle gemeenskap en Moraka Thandi, die LUR van kuns en kultuur in Limpopo, gehou. Die koor het R500 000 van die LUR ontvang, asook ʼn verdere R500 000 om die koorprogram te ontwikkel.

Tempelman het gesê die koorlede moet nou eers probeer uitrus ná die reeks onderhoude sedert hulle weer terug in die land is.

“Hulle vertrek weer volgende naweek vir ʼn toer deur Nederland, maar hierdie kinders is steeds baie geesdriftig, hoewel hulle ook al baie moeg is.”

Hier is ‘n video van die lied “Higher Love” wat binnekort as ‘n enkelsnit uitgereik sal word:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

schaun ·

Dit is snaaks hoe n klein ding so n groot ophef van gemaak word ja hulle is goed baie goed baie geluk maar hou asb op met die opheffing elke dag of bou n standbeeld op kerkplein langs paul kruger sin my ouma het altyd gesê dit is soos iemand wat aan niks gewoond is nie.

Therese van Schalkwyk ·

Skitterende prestasies!
‘n Blink toekoms wag.

Kan egter nie anders as om op te merk dat diversiteit, inklusiwiteit ens. net sóms in Suid-Afrika geld nie. Wat gaan dr. Hugo Tempelman doen as ‘n betraande wit gesiggie van Limpopo op ‘n dag wonder waarom hy/sy dan nie mag saamsing nie?
Verneem graag van enige ander eksklusiewe kinderkore in SA.

In die lig van die kabaal wat tans opgeskop word oor ‘n Afrikaanse Technikon, is hierdie ‘n geldige vraag.

OumaLien ·

Wat gebeur met die kinders se skoolopleiding wanneer hulle vir weke aaneen toer of is hulle almal klaar met skool? – wonder maar net.

Hanlie ·

Ag julle kom nou, wees bly saam met daardie kindertjies. Hulle het hard geoefen om daaruit te kom. Baie geluk NDLOVU en Ralhp Schmitt.

Liza ·

Hierdie kinders het talent! Gun hulle dit! Dit is harde werk om te kom waar hulle vandag is, bou daarop en moet julle asb nie steur oor die klomp suurknolle nie (ek is seker nie een van hulle kan ‘n noot hou nie) !!!

Piet Jacobs ·

Wonderlike prestasie , moet julle nie steur aan die ou suurknolle nie. Doen so voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.