SIKMF bied oorsese studiebeurskompetisie aan

SIKMF stel oorsese studiebeurskompetisie bekend FOTO: http://www.samirariachy.com/project/biography/

SIKMF stel oorsese studiebeurskompetisie bekend. Foto: Samirariachy.com

Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) het ʼn internasionale studiebeurskompetisie, wat ’n musiekstudent in staat sal stel om sy of haar musiekstudies by ’n erkende instelling oorsee voort te sit, bekend gestel.

Dié kompetisie bied die grootste enkele beurs wat deur ʼn Suid-Afrikaanse klassiekemusiek-kompetisie toegeken kan word met prysgeld van R200 000 vir die eerste prys.

Die musiekstudent in die tweede plek sal R60 000 ontvang vir verdere musiekstudie aan die Universiteit van Stellenbosch (US) of ’n oorsese instelling. Deelnemers aan die studiebeurskompetisie kan ook ʼn bykomende vier pryse van R10 000 elk wen vir onderskeidelik die beste vertolking van ʼn Suid-Afrikaanse werk, die beste uitvoering, die beste vertolking van ʼn groot kamermusiekwerk en die beste concerto-uitvoering.

Die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO), onder leiding van die Israelse dirigent en SIKMF-fakulteitslid Daniel Boico, sal die finaliste in die eindronde begelei.

“Ons slaan ʼn groot slag met dié dat die KFO die kompetisie geëndosseer het met soveel entoesiasme en by hul besige skedule ingesluit het,” het Peter Martens, die Feesdirekteur, gesê.

Die kompetisie sal tydens die 12de jaarlikse SIKMF van 3 tot 12 Julie by die US Konservatorium aangebied word. Die fees lok jaarliks die beste Suid-Afrikaanse musiekstudente vir meesterklasse en lesings deur internasionaal bekroonde musici.

“Dit is duidelik dat ons innoverend sal moet wees as ons die momentum wil handhaaf wat die SIKMF oor die laaste dekade of so opgebou het. Die kompetisie met ʼn eerste prys wat ʼn top Suid-Afrikaanse student in staat sal stel om oorsee te studeer, was die antwoord,” het hy gesê.

Martens sê die belangrike kenmerke van die kompetisie is om ʼn betekenisvolle bydrae tot die lewens van die studente te maak.

Kandidate wat wil inskryf moet ’n 30 tot 40 minuut lange opname van ʼn konsertprogram op DVD inhandig of via ʼn vielige digitale skakel aan die SIKMF Direkteur stuur. ʼn Maksimum van tien deelnemers sal gekies word vir die tweede rondte, wat by die US Konservatorium gehou sal word.

Slegs vier finaliste sal na die eindrondte deurdring.

Prof Nina Schumann, Artistieke Direkteur van die SIKMF en voorsitter van die paneel, sê die doel is om die beste plaaslike musiekstudente na die fees te lok en ’n internasionaal mededingende beloning aan te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.