Die sanger, Simeon Hamman, wat aanvanklik as ʼn kinderster bekendheid verwerf het met sy liedjie, Gee my tekkies, het onlangs sy tweede Afrikaanse musiekvideo van sy nuwe album, Rooi rokvrygestel.
Die video van die liedjie, Jy lyk goed in my hemp, is aan die begin van Januarie 2013 oor ʼn tydperk van twee en ʼn half dae in Muldersdrift en Kyalami in Gauteng verfilm. Jasmin Cloete, ʼn model van die agentskap Filmstyl en inwoner van Roodepoort, is saam met Simeon in die musiekvideo te sien. Pierre Smith was die regisseur, kameraman en het ook die verwerking van die video behartig.
ʼn Mens sou nie verkwalik word as jy die musiekvideo as ʼn familieprojek beskryf nie, almal in die Hamman-gesin het ʼn handjie bygesit om die finale produk te lewer. ʼn Radiobeheerde helikopter, met Timothy Hamman as vlieënier en FC Hamman as kameraman, is gebruik vir die skiet van sommige tonele in die musiekvideo. Claudia Hamman het die stilering en grimering behartig en Waldemar Coetzee was die kunsregisseur. Jesse Hamman het die meubels vir die musiekvideo ontwerp. Sy het van die meubels uit weggooi-materiaal gerestoureer en in moderne meubels omskep.
Daar is ook gebruik gemaak van superstadige-skote in die musiekvideo, of “super slo-mo” soos dit in Engels genoem word. Die tonele is teen 200 raampies per sekondes verfilm wat sewe keer vinniger is as die normale spoed van 25 raampies per sekonde waarteen normale bewegings in ʼn rolprent of video verfilm word.
Baie talentvol, pragtige stem! Simeon, hou asb aan om musiek te skryf en te sing. Dis jou God gegewe talent, jou roeping.