Sing slim met liedjies uit FAK

Gr. R-leerlinge aan die Laerskool Wierdapark in Centurion het saamgespeel en gesing. Saam met hulle is Ona Janse van Rensburg. (Foto: Verskaf)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Saterdag die Sing Slim Liedjies-slypskool aan sowat 200 kleuterskoolonderwysers in die Voortrekkermonument se Afrikaanse Liedjietuin aangebied.

Die slypskool is in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en die Noordwes-Universiteit (NWU) aangebied.

Die Sing Slim Liedjies-projek lei kleuterskoolonderwysers op om deur middel van musiek en speel-speel saam met hul leerders hulle fyn motoriese vaardighede en kennis te ontwikkel.

Altesaam 13 liedjies uit die FAK-Sangbundel II word in die lesplanne gebruik om aan die kinders konsepte soos hoog teenoor laag, vinnig teenoor stadig, lang en kort note, emosies in musiek, herkenning van musiekinstrumente en herkenning van stemme bekend te stel.

Dié liedjies, van lied 190 tot 202 in die FAK-Sangbundel II, sluit onder meer in “Goeiemôre maatjies”, “Huise”, “Kesie”, “My pappa, my pamma”, “Op die plaas”, “Ou skilpad” en “Pollie papegaai”.

Dié projek is Dawid Oelofse se hartstaak. Oelofse het die waarde van liedjies in die sangbundel besef en die noodsaak dat dit aan kinders in die grondslagfase bekendgestel moet word.

“Op dié manier word hulle blootgestel aan die Afrikaanse taal en kultuur en ʼn trotsheid wat ons almal in ons DNS as Afrikaanssprekendes ronddra word gekweek. Dit is ’n droom wat waar geword het en vir kinders op die skoolbank baie gaan beteken,” sê Oelofse.

Ona Janse van Rensburg, oud- vroeë kinderontwikkelingsonderwyser wat vir meer as 30 jaar grondslagfase-onderwysers opgelei het, het die lesplanne vir Sing Slim saamgestel. Kobus Venter, dirigent van die Potchefstroomse Universiteitskoor, het lewe aan die liedjies gegee.

Die begeleiding en sang en ook die bewegingsmusiek wat in die lesse gebruik word, is deur Venter in die klankateljee van Pieter de Bruin in Potchefstroom opgeneem. Venter en sy vrou, Anelle, sing ook die liedjies.

Die lesbeplanning is uitgewerk om in drie fases aangebied te word: bekendstelling, vrye beweging en gekontroleerde beweging. Op dié manier word kinders geleer om liedjies “slim te sing”.

Volgens Janse van Rensburg het daar ʼn reusegaping van gr. 1, en in sommige skole reeds van gr. R, ontstaan weens die departement van basiese onderwys se oordrewe klem op assessering in tale en wiskunde.

“Dit het veroorsaak dat die onderafdelings van lewensvaardighede afgeskeep word en kreatiewe kunste, waaronder kuns en musiek, in sommige skole glad nie meer aangebied word nie.”

Sing Slim Liedjies gee aandag aan dié leemte. “Ek vertrou dat dié projek geïntegreer sal word in die vakke wat in gr. R en die grondslagfase aangebied word; dat leerders holisties ontwikkel sal word en dat hulle liefde vir alle vorme van musiek, musiekmaak en individueel of saamsing sal ontwikkel.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê “kinders word deur middel van Sing Slim sing-sing lief vir Afrikaans”.

Vir meer inligting besoek http://www.fak.org.za/faksingslim/.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.