‘Singende chirurg’ neem Koos Doep-lied op vir Kersseisoen

Dr. Wilhelm Lichtenberg en Amanda Strydom in die ateljee. (Foto: Facebook/Frans Cronjé)

Nee, bieg die Kaapse sanger en kardiotorakale chirurg dr. Wilhelm Lichtenberg, hy weet nie waar hy al die tyd vandaan kry om sy passies in die musiekateljee sowel as die operasiesaal uit te leef nie.

Lichtenberg, ʼn klassieke tenoor, se splinternuwe enkelsnit en musiekvideo van sy weergawe van die bekende Koos du Plessis-snit “Somerkersfees” is pas uitgereik. Amanda Strydom se fluweelstem is saam met die wêreldklas-engelstemme van die Tygerbergse Kinderkoor en die Suid-Afrikaanse Jeugkoor op die snit te hoor.

“Somerkersfees” is deel van ʼn projek getiteld Gebed vir Vrede, ʼn reeks van ses musiekvrystellings wat oor die verloop van die volgende twee jaar uitgereik sal word.

Volgens Lichtenberg is die doel van die projek om ʼn boodskap van vrede, genesing en hoop aan elke Suid-Afrikaner uit te dra. Hy vertel hy sou aanvanklik slegs “Somerkersfees” opgeneem het om as ʼn Kersliedjie vry te stel.

“Buiten dat dit een van my gunstelingliedere is, gryp die boodskap van vrede my aan en dit is iets wat ons so broodnodig het in ons land. Ons land se mense is só moeg vir baklei, swaarkry en ons politici wat gebruik maak van elke geleentheid wat hulle moontlik kan as ʼn speelbal om mense te verdeel.

“Dit is tyd dat Suid-Afrika se mense weer na mekaar uitreik en in vrede saam sit en tot besinning kom. Daarom spreek die snitte wat deel vorm van die Gebed vir Vrede-projek tot die hele bevolking met ʼn vredesboodskap van versoening.”

Liedjies soos “Gebed vir Afrika”, “Wees Stil en Weet”, “Gebed”, “Ndikhokhele Bawo” en “I Vow To Thee My Country” sal ook as deel van die projek opgeneem word in ʼn poging om geld in te samel vir die Vriende van Landbou-organisasie.

Dié niewinsgewende organisasie se doel is om boeregemeenskappe by te staan wat deur die voortslepende droogte en die onlangse vernietigende brande geraak word.

Van die land se bekendste kunstenaars sal saam met Lichtenberg op die snitte sing. Riaan Steyn, eienaar en vervaardiger van Traxstudio, het hom aangemoedig om Strydom te nader om “Somerkersfees” op te neem en hy vertel sy ervaring om saam met haar te werk het al sy verwagtinge oortref.

“Die geleentheid om saam met haar te werk was amper te goed om waar te wees. Sy het sonder huiwering ingestem om deel te wees van die opname. Sy is ʼn absolute skat van ʼn mens; sy is warm en beskeie, daar is nie genoeg byvoeglike naamwoorde om haar te beskryf nie. En uiters professioneel – sy het die liedjie een keer deur gesing en ons was klaar met haar gedeelte van die opname.”

Frans Cronjé, regisseur van die rolprente Faith Like Potatoes en Hansie, het die musiekvideo geskiet en vervaardig.

Dit is ook die eerste keer dat ʼn Sesotho vers by dié gewilde Kerslied bygewerk is en dit word meesterlik deur Lichtenberg, wat self vlot Sesotho magtig is, vertolk en moeiteloos in die Afrikaanse lirieke verweef. Die vers is die pennevrug van Derek Phofa, ʼn kollega van die chirurg wat as verpleër saam met hom na sy pasiënte in die intensiewesorgeenheid omsien.

“Ek wil die boodskap in almal se harte gaan bêre. Dit is sekerlik die belangrikste boodskap wat ons land op hierdie stadium moet hoor. Daar is lankal nie meer tyd of plek vir politiek as dit om mense se lewens gaan nie.”

Daarom is hy ʼn stoere ondersteuner van die Vriende van Landbou-organisasie. “Elke dag word elkeen in ons land se lewens bedreig deur ʼn kultuur van geweld. Die verantwoordelikheid lê by ons as landsburgers om hande te vat en saam te staan om die probleem op te los.

Dr. Wilhelm Lichtenberg. (Foto: Facebook)

“Ons land se voedselsekerheid is in gedrang. Die voortslepende droogte en onlangse brande het nog meer druk op dié belangrike ekonomiese sektor geplaas. Die grootste nagevolge van die afgelope jaar se inperking as gevolg van die Covid-19-pandemie, naamlik ernstige hongersnood weens armoede, gaan katastrofiese gevolge hê en nog lank in die toekoms gevoel word.”

Die “singende chirurg” het verlede jaar op sy eie kenmerkende wyse op die musiektoneel verskyn met sy debuutalbum Tale van my hart. Dié album is vir ʼn SAMA-toekenning (South African Music Award) benoem en hy snoer kragte saam met onder meer met die bekroonde Nederlandse sanger Stef Bos vir die titelsnit van die album.

“Ek is baie passievol oor musiek en daarom maak ek net eenvoudig tyd daarvoor, maar ek probeer om niks of niemand af te skeep in die proses nie, veral nie my vrou en familie nie. Ek weet net dit is ʼn kwessie van dat ʼn mens jouself moet omring met mense en geleenthede wat waarde toevoeg tot jou lewe en dié dinge laat gebeur.”

“Somerkersfees” is op Apple Music, iTunes, Spotify en Deezer beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.