Sit jou nuwe Afrikaanse lied op papier

Die ATKV nooi alle amateurliedjieskrywers van alle ouderdomme om deel te neem aan ‘n unieke liedjieskryfkompetisie: ATKV-CrescendoKreatief.

ATKV-Crescendo is al ’n geruime tyd ’n bekende huishoudelike naam in die Afrikaanse musiekwêreld as ’n gewilde sangkompetisie. ATKV-Crescendo het egter ’n nuwe baadjie aangetrek en is nou ’n kompetisie vir liedjieskrywers, naamlik ATKV-CrescendoKreatief.

Amateurliedjieskrywers kan hul nuutgeskrewe werke opgeneem op ’n CD aan die ATKV stuur. Liedjieskrywers het vanjaar vrye teuels aangesien daar geen tema aan die kompetisie gekoppel is nie. Teen die einde van Oktober word die inskrywings beoordeel deur ’n beoordelaarspaneel onder leiding van Lize Beekman. Die tien beste liedjieskrywers word dan genooi om deel te neem aan ’n ligteliedjiewerkskool by ATKV-Goudini Spa naby Worcester in die Kaap. Hierdie weeklange werkskool, van 27 November tot 2 Desember 2011, is ’n allesomvattende praktiese kursus waartydens die skryf van musiek en liriek ontwikkel en geslyp word.

Vanjaar se kursusaanbieders is Lize Beekman, Christa Steyn en Annake de Villiers. Gassprekers by die kursus is David Kramer en Karen Zoid.

Aan die einde van die werkskool word die wenliedjie aangewys uit die liedjies van die werkskooldeelnemers. Vir meer inligting en om in te skryf, klik op die ATKV-webwerf by http://www.atkvprojekte.co.za/ en kies die CrescendoKreatief skakel of skakel Chantelle van Zyl by 011 919 9013. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 7 Oktober 2011.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.