Skilder jou liefde

Stef Kruger

Met meer aso 400 liedjies op sy kerfstok is Stef Kruger waarskynlik Suid-Afrika se mees prolifieke liedjieskrywer met stringe treffers agter sy naam. Al het talle van die bekendste Afrikaanse kunstenaars sy liedjies opgeneem, tree Kruger met sy jongste album, Skilder jou liefde, daadwerklik in die kollig om sy merkwaardige musiektalent ten toon te stel.

Kruger is ‘n musikale woordsmid soos min en die pa van liedjies soos Pennies op die spoor, Grassade in die wind en Tussen jou en my wat hy nou met sy vertroetelende fluweelstem vir die nuwe album opgeneem het. “Ek wil net graag hê die mense moet hoor hoe die liedjies klink soos ek dit oorspronklik geskryf het. Mense is geneig om te dink alle sangers skryf hul eie liedjies. Na 35 jaar in die bedryf en nadat Dozi al 56 van my liedjies opgeneem het, is daar nog mense wat nie weet dat ek dit geskryf het nie.”

Al die liedjies op Skilder jou liefde is al voorheen deur Dozi opgeneem, behalwe My wortelwêreld, wat die enigste nuwe skepping op die album met sy 14 snitte is. My wortelwêreld, wat ook die CD se musiekvideo sal wees, handel oor Kruger se geboorteplek, Philippolis. Hoewel hy in Springfontein in die Vrystaat gebore is, het Kruger in Philippolis grootgeword.

Kruger beskryf die album en musiek as “rustig, eerlik, eenvoudig, opreg en net lekkerluister-musiek met ‘n akoestiese klank”. Dié musiek is ‘n toonvenster van sy talent wat hy al vir langer as drie dekades slyp. Hy was vir 25 jaar lank verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se vermaaklikheidseenheid waar hy tromme gespeel het, maar het ook sy musiekeksamen op die dwarsfluit afgelê.

Die musiekgogga het hom egter al kleintyd gebyt. “Vandat ek kan onthou, het ek my suster se grammaphone gegaps en so op my eie na al haar plate geluister en bokse rondom my gepak sodat ek op die bokse trom kon speel saam met die plate.”

Nes Kruger emosie, musiek en woorde met breë, kleurvolle kwashale van sy Godgegewe talent skilder, het Portchie die omslag vir die album geverf. Die helder kleure van die Portchie-skildery is die ideale inleiding tot die diepte en warmte wat Kruger aan sy luisteraar bied.

Om liedjies te skryf – wat veel meer is as net digterskap, want liedjieskrywer moet ook musiek kan skryf – is vir Kruger meestal sonder moeite. “Dit gebeur net. Ek word wakker met ‘n melodie, dan kom die woorde. Dit is vir my soos om asem te haal. Dit moet net gebeur. Ek kan nie daarsonder nie.”

Een keer se luister na Skilder jou liefde is soos om goud raak te boor. Kruger lê die hart van sy mees geliefde liedjies hier met soveel sysagte sjarme bloot dat oud en jonk in ‘n japtrap voor dié juweeltjies sal swymel. Ware koesterklanke!

Speellys

  1. Al gebeur wat
  2. Dis Bosveldmooi
  3. Ek dink aan jou (Muskus)
  4. Grassade in die wind
  5. Hou Koers (Ook bekend as Hart se Spoor)
  6. In die boendoes van my hart
  7. Ma se song
  8. Maak vir my ‘n skildery
  9. Maybe my baby
  10. My wortelwêreld
  11. Pennies op die spoor
  12. Tussen die lyne
  13. Tussen jou en my

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marilyn Viljoen ·

Ek is so dringed op soek na Stef Kruger se cd geen winkel hier in Namibia kry dit op die sisteem nie is bereid om die posgeld ook te betaal groot asseblief.

Rina-Louise du Plessis ·

Stef Kruger het n “like” page op facebook. Like die page, jy kan direk van hom af bestel. Groetnis;-)

Rina-Louise du Plessis ·

Gaan na Stef Kruger se like page op facebook. Jy kan dit direk van hom af bestel. Groetnis

Rina-Louise du Plessis ·

Stef Kruger het n “like” page op facebook. Like die page en bestel die cd direk van hom af. Groetnis

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.