Skop uit jou skoene- Juba

Dit gebeur soms dat ‘n groep wat aan ‘n samgkompetisie op televisie deelgeneem het, op die ou einde besluit om professioneel te sing.

Die sangpaar Juba, wat uit die broers Adriaan en Martiens Joubert bestaan, het aan die kompetisie Kom ons karaoke, wat op kykNet deur Jannie Moolman aangebied is, deelgeneem, en verlede jaar hul debuutalbum, Skop uit jou skoene, vrygestel. Hierdie album is pas heruitgereik met ‘n paar nuwe snitte daarop, en hulle het ook ‘n kontrak by ‘n nuwe platemaatskappy gekry. Die titelsnit was die groot treffer vanaf die album en, soos die res van die album is dit deur Martiens geskryf.

Net een dag is die eerste nuwe snit vanaf die album, en dit kan ook ‘n treffer word. Botterbekkie is nog ‘n nuwe snit, en veral die klavier en konsertina daarop klink baie goed.  Daar is seker nie een pa wat hom nie hiermee kan identifiseer nie!  Oupa was op die vorige uitgawe van di album, en Eln album, en Elné sing saam met haar. Daar word egter nie gesê of sy een van die twee broers se dogtertjie is nie, maar ‘n mens kan seker so aanneem. 10 uit 10 is nog ‘n nuwe snit wat ‘n treffer kan word.  My broer my bra is lekker sosiale kommentaar oor wat op die oomblik in ons land aan die gang is, en hoewel die boodskap na slegte nuus klink, kan jy nie anders as om te glimlag as jy daarna luister nie. Belowe jou is die eerste nuwe snit waarvan daar ‘n musiekvideo gemaak is, en ‘n mens kan seker aanneem dat dit die eerste treffer van die nuwe album sal wees. Hoeveel nog is ‘n baie sterk standpunt teen die misdaad en die ander verkeerde dinge wat in die land aangaan. Bakgatboogie is ook al deur Snotkop opgeneem, en dit moes eintlik ook al ‘n treffer geword het.  Noudat dit nie so goed met oud-president Nelson Mandela se gesondheid gaan nie, het Liewe Mandela net nog meer aktueel geword. Hulle het die bekende volksliedjies Hoe ry die Boere en Boegoeberg se dam slim ingewerk, en die “rap”-gedeelte klink baie goed. Miskien gaan dit ‘n baie groot treffer word; jy voel sommer lus om saam te sing! Warmbad se veilingskraal is die tipe liedjie wat onder die boeregemeenskap gewild behoort te word, maar dit is so ‘n lekker liedjie dat dit meer as dit verdien.

Vader tyd is ‘n nuwe snit wat by ‘n wye gehoor byval behoort te vind;‘n mens kan iets van Groep 2 hierin hoor. Gebed van ‘n boer en Boer in beton is nog twee snitte wat ook op die vorige album voorgekom het. Veral laasgenoemde is iets besonders; dit het niks met Koos Kombuis se liedjie te doen nie en is eerder ‘n oorspronklike komposisie. Veerboot in Parys is effens anders as die meeste ander snitte op die album, en verdien beslis radiolugtyd. Once upon a time is die enigste Engelse snit op die album, en hierop kom ‘n mens agter dat hulle net so goed Engels as Afrikaans kan skryf en sing. Die laaste snit, Steek op jou hand is ‘n baie goeie snit waarin hulle bely dat hulle kinders van die Here is. Ongelukkig is dit onwaarskynlik dat te veel radiostasies dit sal speel, en as dit die geval is, is dit ‘n jammerte. Op hierdie snit sien jy ‘n kant van hulle waarvan jy dalk nie bewus was nie, en dit sal goed wees as hulle miskien ook hul optredes met hierdie snit kan afsluit.

Dit gebeur gereeld dat ‘n album heruitgereik word kort nadat dit aanvanklik vrygestel is. Vir ‘n verandering is dit nie ‘n pobleem nie, want die aanvanklike weergawe van dié album het nog nie sy volle potensiaal bereik nie. Daarom is dit goed dat ‘n nuwe platemaatskappy dit ‘n tweede kans gegee het. Volgens Adriaan en Martiens het mense gekla dat die oorsprnklike album te kort was; dit is eintlik nonsens, want gewoonlik is daar nie meer as so drie of vier radiotreffers vanaf ‘n album nie. Hoe ook al, die nuwe snitte maak die album net nog beter, en daarom kan dit nog sterker as voorheen aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.