Skouspel skuif en word SuperSkouspel

Die gewilde Afrikaanse musiekkonsert, Skouspel word vanjaar in die FNB-stadion in Johannesburg aangebied as SuperSkouspel. Foto: Facebook

Die gewilde Afrikaanse musiekkonsert, Skouspel word vanjaar in die FNB-stadion in Johannesburg aangebied as SuperSkouspel. Foto: Facebook

Huisgenoot-Skouspel, die gewilde Afrikaanse musiekkonsert wat die afgelope 15 jaar by Sun City gehou is, word vanjaar in die FNB-stadion in Johannesburg aangebied as SuperSkouspel. Waar daar gewoonlik verskeie vertonings oor twee naweke plaasgevind  het, word dit nou as een groot vertoning aangebied wat 30 000 mense kan akkommodeer.

Huisgenoot, kykNET en Big Concerts het kragte saamgespan vir SuperSkouspel wat op 19 September plaasvind. Volgens Henriëtte Loubser, redakteur van Huisgenoot, is dit ʼn droomspan. “Ons gaan geskiedenis maak deur ʼn Afrikaanse musiekkonsert vir die hele gesin in die grootste stadion in Afrika te hou,” sê Loubser.

Volgens haar is die datum gekies om saam te val met Erfenisdag op 24 September. Suid-Afrika se eerste Wêreldbeker-rugbywedstryd sal ook voor die vertoning regstreeks om 17:45 op die grootskerm in die stadion gewys word sodat konsertgangers dit kan kyk.

Karen Meiring, M-Net direkteur van Afrikaanse kanale, sê hulle vier erfenis met Afrikaans as die hoofkarakter. “ SuperSkouspel is vol verrassings. Dis musiek in Afrikaans soos jy dit nog nooit gehoor het nie.”

David Kramer, Karen Zoid, Kurt Darren, Emo Adams, Mango Groove,  Freshly Ground en Francois van Coke is slegs ʼn paar van die kunstenaars wat by die geleentheid sal optree. Die gehoor kan ook uitsien na Van Coke en Zoid se gewilde treffer Toe vind ek jou.

Die Skotse sanger, Susan Boyle, wat opslae gemaak het toe sy aan Brittain’s got talent deelgeneem het, sal as die internasionale gaskunstenaar optree.

Kaartjies vir SuperSkouspel kos  van R199 tot R550 en is beskikbaar vanaf Vrydag 26 Junie om 09:00 by Computicket. Daar is ook parkeer-en-ry-opsies vanaf verskeie plekke in Gauteng by Computicket beskikbaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan 2 ·

Dankie Emile ek voel ook so…hul sal my nie maklik weer daar kry nie…hul is maar maar net nog n klomp linkse twakpraaters

ella ·

Dis nou vir jou n vraag. Dink net hoe die stem dan sal klink.

Irene ·

Ek het dan nou net gedink ons land is ‘n land van keuses. Wat se keuse het ek dan om te gaan kyk as dit op een dag aan gebied word. By Sun City was allles lekker by mekaar maar hier sal jy moet jou verkyker saam vat om iets te kan sien. Daar sal seker groot skerms wees maar dit is nie dieselfde nie. Ek sê ook nee dankie sal nie daar wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.