As jy van koormusiek hou, is Capital Singers ‘400 beslis die groep om dop te hou. Met Kersfees op die drumpel is dié groep besig om aan twee skouspelagtige vertonings te werk vir onderskeidelik Saterdag 5 Desember (19:00) en Sondag 6 Desember (12:00) by die NG Kerk, Universiteitsoord.
Capital Singers ‘400 word begelei deur Christo Burger, dirigent van die Akustika Chamber Singers en Michael Barrett, dirigent van die Univeristeit van Pretoria-koor.
Burger sê dié groep gee koorlede ʼn platform om hulself uit te druk. “Dit is musiek wat gerig is op die gemeenskap. Lede van die groep gee met hul deelname hieraan iets terug aan die gemeenskap.”
Die massakoor bestaan uit 400 lede en was voorheen vanjaar te sien in Easter Celebration en Popera. “Die Paasfeeskonsert het ʼn formele atmosfeer gehad, terwyl die Popera ʼn baie speelse atmosfeer gehad het. Met dié Kersfeesoptrede wil ons ʼn atmosfeer van liefde, familie, aanvaarding en samekoms skep.”
Inskrywings om deel te wees van die sanggroep het wel reeds op 15 November gesluit, maar jy kan steeds die optredes in volle glorie geniet deur vroegtydig kaartjies te bespreek.
Om te bespreek, stuur ʼn e-pos na [email protected] met jou naam, van, hoeveelheid kaartjies, na watter konsert jy wil gaan en jou kontakbesonderhede. Die kaartjies beloop R120p/p. Vir meer inligting klik hier.