Skryf nou in vir ATKV-Applous 2018

Pretoria Boys High se koor in aksie tydens die finaal van ATKV-Applous 2017 in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Die ATKV-Applouskompetisie word vanjaar vir die 41ste keer aangebied. Hierdie jaar gaan dié bekende kompetisie op versoek van koorleiers ook vergesel word met ʼn koorwerkswinkel.

Volgens Johan Esterhuizen, bestuurder: jeugprojekte, is sy span baie opgewonde oor vanjaar se kompetisie.

“Vanjaar se Applous het slegs een ronde – die streeksfees. Elke streeksfees gaan egter ’n finaal in eie reg wees,” het hy gesê.

Die koorwerkswinkels gaan aangebied word deur spesialiste op die gebied van koorsang, en onderwerpe soos repertorium, koorklank, stembou en intonasie sal onder meer behandel word.

Die kategorieë waarin laerskoolkore kan inskryf, is Afrikaans (moedertaalsprekers), nie-Afrikaansmoedertaalsprekers en meer ervare senior en junior kore.

Hoërskoolleerders kan meeding in kategorieë vir Afrikaans (moedertaalsprekers), nie-Afrikaansmoedertaalsprekers en meer ervare kore met subafdelings vir seunskore, meisieskore en gemengde kore.

Volgens Martin Berger, ’n bekende in koorkringe, moet kore vir ATKV-Applous inskryf omdat hul deelname passie kweek. “Passie is belangrik, want dis die dryfveer wat ons help om vorentoe te beweeg. Musiek kan passie kweek. Musiek kan ook kuns en sosiale geregtigheid meebring.”

“Deur musiek en koorsang kan ons bydra tot ’n beter en meer positiewe gemeenskap,” het Berger gesê.

Skole en koorleiers het tot 2 Maart 2018 om hul skoolkore vir deelname aan die ATKV-Applousstreeksfeeste in te skryf.

Vir meer inligting besoek www.atkv.org.za of kontak Bessie Keun by [email protected], Jacqueline Göttert by [email protected] of skakel 011 919 9038.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OMS supporter ·

Hoop ons wen die jaar! Laas jaar was ons 3de in SA. Kom ons gaan vir goud Eendjies!

Boerseun ·

Moet hulle nie maar dit n engelse naam gee nie. Wag maar, al die sort goed gaan saam julle afrikaanse skole verdwyn. Dan as jy wil wen moet jy iets in die lyn van die Soweto koor doen, met afrikaanse liedjies gaan jy nie wen nie. Dalk n Johnnie Clegg of PJ Power liedjie doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.