Smile Foundation en sangers span saam teen pandemie

Die Smile Foundation, Tixsa en 15 sangers het saam gespan om ‘n besonderse e-konsertreeks aan te bied. (Foto: Verskaf.)

Sangers en musikante soos Amanda Strydom, Anton Goosen, SterlingEQ, dr. Pierre Nel en ʼn keur van nog 11 sangers en musikante is deel van ʼn aanlyn konsert wat hierdie naweek ten bate van die Smile Foundation plaasvind.

Die Smile Foundation se eerste #HelpThoseOnTheFrontLine-konsert word Vrydag om 19:00 aangebied om die organisasie te help om geld in te samel vir beskermingstoerusting vir mediese personeel wat in die voorste linies teen die Covid-19-stryd werk. Die konsert kan vir 72 uur gekyk word.

Nog musikante wat deel is van die konsert is Zahar, Alan Glass, Chad Saaim, DieSiblings en Lesley Williams, om ʼn paar name te noem.

Sunet Wagner van Tixsa het aan Maroela Media gesê die platform het reeds agt e-konserte vir die geldinsamelingsprojek van die Smile Foundation vasgemaak.

“Mense kan uitsien na agt naweke se konserte wat reeds 120 sangers bevat. Buiten die debuutkonsert van hierdie naweek is daar ook nog ʼn gospelkonsert, asook ʼn Afrikaans is lekker- en Country-musiekkonsert wat beplan word,” vertel Wagner.

Sy meen die e-konsertreeks help nie net om geld in te samel vir ʼn waardige doel soos die finansiering van beskermingstoerusting om die mediese personeel teen Covid-19 te beveilig nie, maar dit skep ook ʼn inkomstestroom vir sangers en musikante.

Volgens Hedley Lewis, die uitvoerende hoof van die Smile Foundation, het die organisasie besluit om alles in sy vermoë te doen om die stryd teen Covid-19 te ondersteun. Die stigting kry bykans daagliks versoeke van staats- en akademiese hospitale vir versoeke van beskermingstoerusting.

Lewis sê dit beteken egter nie dat die stigting opgehou het om kinders te help met rekonstruktiewe chirurgie vir haaslippies of brandslagoffers nie, Covid-19 het net deel geword van die organisasie se strategiese fokus en dit plaas bykomende druk op sy hulpbronne.

Wagner meen die e-konsertreeks is die beste manier om die stigting en mediese personeel te help. “Nie net kry musiekliefhebbers die kans om hulle gunstelingmusiek te geniet nie, maar hulle ontdek ook dalk net ʼn nuwe gunsteling, terwyl die R67 wat hulle aan die kaartjie bestee die stigting en sangers help.”

Kaartjies vir die Smile Foundation se #HelpThoseOnTheFrontLine-konserte kan by Tixsa aangeskaf word. Ondersteun sommer die hele konsertreeks as jy kan. Besoek die Smile Foundation se webwerf vir meer besonderhede oor die organisasie se werksaamhede.

  • Sunet Wagner van Tixsa het met Maroela Media gesels oor #HelpThoseOnTheFrontLine-konserte wat vir die Smile Foundation aangebied word. Sy verduidelik wie by die reeks e-konserte betrokke is, asook hoe die aanlyn konserte werk nadat jy jou kaartjie aangeskaf het. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.