Smokie byna weer in Suid-Afrika

Foto: smokie.co.uk

Foto: smokie.co.uk

Veertig jaar nadat hulle vir die eerste keer op die internasionale musiektoneel verskyn het, is Smokie gereed om weer ‘n wêreldtoer te onderneem en optredes in Suid-Afrika is weereens op die program.

As deel van hul  Anthology-wêreldtoer sal hulle van 9 tot 11 Oktober in Suid-Afrika optree. Aanhangers kan na hulle gaan luister op 9 Oktober by die Liqui Fruit-amfiteater in die Paarl en op 10 en 11 Oktober by Carnival City.

Volgens Terry Uttley sal die eerste deel van die konsert bestaan uit akoestiese verwerkings van hul treffers, maar na verwagting sal hulle ná die pouse die gehoor op hul voete hê, soos wat mense die groep deur die jare leer ken het.  Dit is die eerste keer wat hulle op hierdie manier konsert hou.  Uttley beskou Suid-Afrika as hul gunstelingbestemming  en volgens hom is dit altyd wonderlik om hier te kom optree. Smokie-aanhangers kan ook uitsien na ‘n versamelalbum wat uit ‘n dubbele CD en ‘n DVD sal bestaan. Hierdie versameling word teen die einde van Augustus vrygestel.

Frans Swart, die uitvoerende hoof van Lefra-produksies, is baie opgewonde om Smokie weer hier te verwelkom.   Dit is die derde Suid-Afrikaanse konserttoer wat Lefra vir Smokie reël. Al die vertonings was elke keer uitverkoop en bykomende vertonings moes gereël word.  Swart is veral opgewonde oor die nuwe program wat Smokie hierdie keer beplan en hy sê aanhangers moet nie net die ou treffers verwag nie, maar ook ‘n aantal nuwe snitte.

Smokie het in 1975 vir die eerste keer onder die publiek se aandag gekom. Hul eerste treffer, “If you think you know how to love me” het  Springbok Radio se Suid-Afrikaanse Top 20 op 14 November 1975 in die twaalfde plek binnegestorm, die tweede plek gehaal en veertien weke op die Top 20 gebly. Daarna het nog ses treffers gevolg, onder meer “Don’t play your rock and roll to me”,  “I’ll meet you at midnight”, hul uiters suksesvolle weergawe van The Searchers se “Needles and pins” en die legendariese “Living next door to Alice”, wat ook die tweede plek op Springbok Radio gehaal het en dertien weke op die Top 20 was.

Kaartjies vir Smokie se vertonings in Suid-Afrika is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eliza-beth ·

BYNA weer in SA maar dan kan mens hul wel gaan sien op ‘n paar plekke? Dan is dit mos nie” byna” nie, maar definitief?Maroela??

Sune van Heerden ·

Dagsê Eliza-beth

In hierdie konteks bedoel Daantjie Dinamiet met “byna” eintlik “binnekort”.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Eliza-beth ·

Ja, verstaan wat jy sê, maar dit kom nie so uit as mens die opskrif lees nie!

jenny ·

Hi daar, sjoe dit is vir my soooo lekker om al die Afrikaanse heerlike lekke liedjies met die videos te kyk. Het gisteraand stoksielalleen na dit geluister en geniet, en gekyk en so gelag en geskater, wat my siel baie goed gedoen het. Kan nie onthou wanneer laaste nie. Nou deesdae net besig om werk te soek. Verkeerde ouderdom (65) en verkeerde kleur (wit). Julle, bid asseblief dat ABBA Vader vir my werk stuur. Uitstekende diktafoontikster, ontvangs, skakelbord, algemene kantoorwerk, Au pair Serior en Junior Burgers vir wat ookal stappies hul verlang @ R50-R65 per uur. Niks staan verkeerd vir hierdie handjies nie. Alles wat ek doen, doen ek met oorgawe asof vir my ABBA Vader persoonlik.
Baie groete, baie dankie, Jenny

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.