Snotkop en vriende eersdaags saam op die verhoog

Die uiters gewilde Afrikaanse popsanger, Snotkop, wat vanjaar vir vier Ghoema-toekennings benoem is, bied eersdaags ʼn massiewe arena-konsert in Pretoria aan wat beloof om oud en jonk se voete te laat jeuk.

Dié konsert, wat heet Snotkop en Vriende, sal by die Sun Arena by die Times Square Casino in Menlyn aangebied word. Gesogte kunstenaars soos Juanita du Plessis, Kurt Darren, Jay en die kletsrymer Early B, sal saam met Snotkop op die verhoog te sien wees.

“Ons gaan almal saam die verhoog deel en ʼn paar interessante snitte doen wat mense ons nog nooit vantevore sien saam doen het nie,” vertel Snotkop, oftewel Francois Henning, aan Maroela Media.

“Dit gaan ʼn baie energieke vertoning wees, met dansers, uitspattige kostuums en helder ligte. Dit gaan net ʼn jol wees!”

Hy voeg by dat dit ʼn familiegeleentheid met ʼn groot verskeidenheid van musiek is en dat oud en jonk welkom is. “Dit is hoekom ons dit op ʼn Sondagmiddag aanbied, want ons wil graag hê dat ouma, ma en pa en kleinboet die vertoning saam met ons kom geniet. Baie van my vriende wat saam met my optree die dag, het baie jong aanhangers en ek wou seker maak dat hulle dit ook kan bywoon.”

Snotkop vertel dat hy baie respek het vir die kunstenaars wat saam met hom te sien is. “Juanita, Jay en Kurt is al vir jare my vriende en ek sien so uit daarna om weer saam met hulle te werk. Ek het oor die jare lief geraak vir almal van hulle.

Snotkop by die Ghoema-toekennings in 2017. (Foto: Cyril Blackburn/Maroela Media)

Snotkop by die Ghoema-toekennings in 2017. (Foto: Cyril Blackburn/Maroela Media)

“Dit is ʼn baie groot droom van my om so ʼn groot vertoning te kan doen wat net my eie is, en om dit te kan doen saam met mense van wie ek plakkate in my kamer gehad het toe ek jonger was, is ʼn baie groot droom wat bewaarheid word.”

Hy gee toe dat dit senutergend is om so ʼn groot arena vol te pak. “Ek is net so dankbaar dat ek op so ʼn vlak in my loopbaan is dat ek so iets kan doen. Dit is regtig ʼn reusevoorreg.”

Volgens Snotkop kan konsertgangers ʼn hele paar verrassings verwag tydens die konsert. “Ek wil natuurlik nie te veel weggee nie, maar mense kan maar hulself gereed maak om nie net handjies gevou te sit nie – daar gáán gedans word. Dit is immers ʼn Snotkop-show! Die tema van die vertoning is party en ons gaan beslis partytjie hou.”

Hoewel dit die grootste aantal mense is wat hy nog ooit na ʼn Snotkop-vertoning moes lok, is hy opgewonde oor die terugvoer wat hy tot dusver gekry het. “Die kaartjies vlieg en die mense stel baie belang, so mense wat nog moet kaartjies koop, moenie slaap nie.”

Snotkop en Vriende vind om 13:00 op Sondag 31 Maart by die Sun Arena, Times Square in Menlyn, Pretoria, plaas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en kos tussen R150 en R500.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Robert van Staden ·

Daar gaan seker weer ‘n klomp halfkaal vroumense saam met hom op die verhoog wees die heeltyd soos in sy video’s. Ek wonder altyd wat sê Snotkop se meisie van al daardie kaal vrouens. Dalk moet julle haar bietjie vra dit kan interessant wees.

Snotkop aanhanger ·

Ons is mal oor Snotkop! Was by AIG en as hy die verhoog betree is dit asof die hele gehoor nuwe lewe kry. Juanita is my man en pa se gunsteling en Jay my dogter sin. Gaan beslis n wonderlike show vir die hele familie wees.

Perspektief ·

Dit gaan verseker ‘n vertoning wees om by te woon. Dankie, Robert en Kern, het julle al die man ontmoet? Het julle al met hom te doen gehad? So vinnig om te kritiseer.
My Ma het my geleer, as jy nie iets goeds van iemand kan se nie, bly liewer stil.

Kern ·

Seker al 13 keer ontmoet. Maar nou kritiseer jy so vinnig, nou wat nou?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.