My sonskyn- Etienne Steyn

My sonskynSoms gebeur dit dat ‘n liedjie so ‘n groot treffer word dat die oorspronklike komponis daarvan skielik opnuut gewild word.
Laurika Rauch het vroer vanjaar haar eerste album in vier jaar vrygestel, en die eerste treffersnit was As ek eendag oud is, wat deur Etienne Steyn geskryf is. Etienne het lank laas ‘n nuwe album vrygestel, maar sy mees onlangse album, My sonskyn, is pas heruitgereik.
Met die eerste snit, Ek wil probeer, kom ‘n mens al agter dat hy ‘n baie goeie sanger en liedjieskrywer is. Hy het trouens elke snit op die album geskryf. Die titelsnit is een van ‘n aantal treffers wat die album al opgelewer het, en dis maklik om te verstaan hoekom dit so gewild is. As ek vra is ‘n anderse soort liefdesliedjie, en ‘n mens wonder of jongmense weet wat dit beteken om “die kys te vra.” Belowe niks is een van die snitte vanaf die album wat nie radiolugtyd gekry het nie, maar dit kon net so wel ‘n treffer gewees het. Die lirieke van Foto in ‘n jaarblad sal veral byval vind by dié wat daarvan hou om nostalgies te raak oor die verlede, maar die ritme is so lekker dat enigiemand daarvan sal hou. Babylove en Ek gaan jou mis was twee van Etienne se treffers wat hy al vantevore opgeneem het. Storie van my hart was die eerste komposisie van Etienne wat Laurika Rauch opgeneem het, en dit is goed om die oorspronklike weergawe te hoor.
Happy dayz was seker Etienne se eerste treffer, maar dis jammer dat daar soveel Engelse woorde daarin voorgekom het. Die volgende snit is As ek eendag oud is, en die verwerking van Etienne se weergawe is baie goed. Miskien sal sy weergawe ook radiolugtyd kry noudat Laurika se weergawe so gewild geword het. Altyd in jou glo en Gee vir my jou liefde was nog twee treffers wat dié album opgelewer het, en veral op laasgenoemde kom ‘n mens agter dat hy lekker kan rock. Die laaste snit, ‘n Liefde soos joune, lat jou lekkerkry, en dis jammer dat dit nie soveel radiolugtyd gekry het nie.
Dis baie goed dat hierdie album heruitgereik is, want dit gee musiekliefhebbers weer die kans om met hierdie talentvolle sanger en liedjieskrywer kennis te maak. Hopelik sal dit nie meer lank wees voordat Etienne met ‘n splinternuwe album vorendag sal kom nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Etienne Steyn Admin ·

Altyd lekker om Daantjie Dinamiet se puik, maar eerlike resensies te lees. Dit is baie informatief en ‘n moet voor mens ‘n CD aanskaf. “My Sonskyn” is ‘n lekker vars klank vir deigene wat ‘n spesiale Kersgeskenk wil koop – bestel gerus by [email protected] en volg Etienne se Facebook – blad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.