Soos ‘n Boss – Snotkop

Soos 'n bossSedert hy drie jaar gelede na een van die grootste platemaatskappye in die land oorgegaan het, het Snotkop se gewildheid geweldig toegeneem.

Sy derde album sedertdien, Soos ‘n Boss, is onglangs uitgereik, en die vraag is of hierdie album so gewild soos die vorige twee sal wees, of dalk by ‘n groter gehoor byval sal vind. Die titelsnit is wat ‘n mens van Snotkop kan verwag; dit is net die ding om die dansvloere vol te kry en die woorde sal byval vind by dié wat met oorgawe partytjie hou. Rock my Amadeus is die Afrikaanse weergawe van Falco se nr. 1-treffer van die 1980’s, Rock me Amadeus, maar Snotkop vertel ‘n heel ander storie as wat Falco gedoen het. Nog ‘n lekker partytjie-liedjie is Aktiwiteite wat belangrik is, en veral die jongklomp sal mal wees hieroor.

Soos die titelsnit is dit een van Snotkop se eie komposisies. Hiekies in Hartenbos is ‘n lekker snit met effens gewaagde lirieke, maar dit behoort een van die treffers vanaf die album te word. Die eerste treffer vanaf die album is Agter op my fiets, waarvoor Snotkop die Afrikaanse woorde geskryf het. Op die album Ek laaik van jol het Snotkop sy eie weergawe van Carike Keuzenkamp se bekende treffer Dis ‘n land opgeneem. Hierdie keer het hy iets heeltemal nuuts met die volksliedjie Al lê die berge nog so blou gedoen; die getroude sangpaar Anders sing saam met hom. Hierdie snit MOET ‘n treffer word; oud en jonk sal mal wees daaroor!

Een snit wat wel al op sommige radiostasies se speellys is, is Dikkelicious, wat weer eens net die ding is om mense op die dansvloer te kry. Dit is ‘n spanpoging deur Snotkop, Mark Kahn, Don Kelly, Adolf Vorster en Neil Schoombee. Die Engelse spreekwoord lui wel “too many cooks spoil the broth,” maar nie in hierdie geval nie.  Die trekklavier op hierdie snit klink ook lekker vrolik. Girls in bikini’s is nog ‘n snit wat hoofsaaklik by jonger luisteraars byval sal vind. Byna elke snit tot dusver was vir die partytjiediere onder ons bedoel, maar op Altyd Ma se kind wys Snotkop sy ernstige kant. Hy het al op Song vir my Dad gewys dat hy liedjies kan sing met meer om die lyf as dié waarvoor hy hoofsaaklik bekendheid verwerf het. Hy dra dit aan sy ma op, en dit hoort op alle radiostasies se speel- en trefferslyste. Die kinderkoor wat op hierdie snit sing, maak dit iets besonders.

Awêh is nog ‘n snit wat Snotkop saam met Mark Kahn geskryf het en dit is nog ‘n moontlike treffer. Selfie is weer eens een van die snitte wat op jonger luisteraars gemik is. Snotkop het die Afrikaanse woorde vir Vlieg die wêreld rond geskryf, maar daar is twee taalfoute in een sin; dit behoort “jy is die een na wie ek soek” te wees eerder as “jy’s die een wie ek soek.” Andersins is dit ‘n goeie snit. Die laaste snit, As daar geen môre was, iets heeltemal anders; dit laat jou dink aan wat jy sou doen as môre nooit sou kom nie, maar sy boodskap is heeltemal anders as dié van Juanita du Plessis.

Met hierdie album bewys Snotkop dat die gewildheid van veral Ek laaik van jol nie ‘n gelukskoot was nie. Daar is ‘n spul moontlike treffers, en hy gee dié wat hom kritiseer, genoeg om aan te dink. Dit is dalk een van die lekkerste albums wat tot dusver vanjaar vrygestel is!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.