Sorina oor kritiek, ma-wees en geloof

Sorina Erasmus. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Sorina Erasmus. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die reuk van vars koeimis hang oor die koeiplaas in Irene in Pretoria waar die blondekop-aktrise in ʼn stoel in die koffiewinkel neerplons.

“Laat mens verlang plaas toe, nè,” sê Sorina Erasmus en trek ʼn diep asemteug deur haar neus in. Haar gesig is skoon en oop, haar vel blink van die olie.

“Jy moet maar verskoon. Ek het gisteraand geshow en baie make-up aangehad. Ek laat die gesiggie nou vandag so bietjie asemhaal.”

Haar gedagtes dwaal weer terug plaas toe. “Braam en die kinders is nou juis op die plaas,” borrel sy en loer na haar selfoon om te kyk of haar man, met wie sy vanjaar tien jaar getroud is, dalk al laat weet het of hy die doepa ingepak het wat hulle gebruik om hul amper driejarige dogter, Miana, se krulkoppie uit te kam.

Sorina kan nie uitgepraat raak oor haar gesin nie. Braambossie, soos sy haar amper vyfjarige seuntjie, Braam, noem, is die hoofseuntjie. Miana, of Sussietjie, is die rabbedoe, vertel sy. “Ek en Braam is tipiese ouers wat voor ons kinders se geboorte gesê het die kinders moet by ons lewe inpas en nie andersom nie en dat hulle in hul eie kamers moet slaap, want die hoofslaapkamer is ons ruimte.”

Sy lag uitbundig. “Dit het natuurlik nie gebeur nie, en ons koek nog steeds almal saam in een kamer! Dankie tog vir ʼn massiewe bed. Ons snork almal saam.”

Vanjaar was dit “back to the basics” vir haar, vertel Sorina wat ook onder Suid-Afrikaners as Die Flooze bekendstaan en onlangs ʼn splinternuwe album, Die Bliengmasjien, uitgereik het.

“In die afgelope tien jaar as Die Flooze moes ek al baie kritiek verduur, maar my uitgangspunt het intussen verander. Die hele benadering met Die Bliengmasjien is om te skyn, al is jou liggie klein. Ek herinner myself wat die belangrikste goed in die lewe is. My man is absoluut my aardse fondament wat onwrikbaar staan,” verduidelik sy.

“Destyds was die kritiek vir my baie erg, want ek probeer almal gelukkig hou en die regte ding doen. Dit was die begin van my loopbaan en ek onthou Braam het vir my die wysheid gegee en gesê: ‘My lief, jy het ʼn keuse waarop jy jou visier stel. Jy kan fokus op diegene wat vír jou is of diegene wat jou gaan afrem.’ Hopelik sal my paaie eendag kruis met die ou wat nié van my hou nie en sal hy sien agter die masker van Die Flooze is daar net ʼn gewone mens, ʼn gewone ma.”

Sorina Erasmus en haar man, Braam. (Foto: Adéle Changuion/Maroela Media)

Sorina Erasmus en haar man, Braam. (Foto: Adéle Changuion/Maroela Media)

Sy benadruk dat dit vir haar belangrik is om haar gehoor te inspireer deur Die Flooze. “Aan die einde van die dag, wanneer die gordyne gesak het, die grimering afgewas is en die natgeswete, kômmin baadjie daar lê en wanneer dit net ek en God is, moet ek as Sorina vanaand my kop op die kussing neerlê en sê: ‘Here, was U trots op my oor my doen en late, oor hoe ek gereageer het op mense wat teenoor my reageer?’ Dit gaan daaroor om jou lig te laat skyn te alle tye, al is dit partykeer moeilik.

“Deur net vir mense te sê: ‘My tjomma, dis oukei, al is jy nie die beste, die mooiste, die rykste, die slimste nie, al is jy net ʼn kômmin flooze soos ek, is jy steeds waardig en ek like jou. Dan is dit orraait as ek teenkanting kry, want ek kan die groter prentjie sien. Ek fokus op die positiewe en is uitgesorteer in die lewe.”

Tog was dit nie altyd so nie en moes sy, voordat sy die rol van Die Flooze in die SABC 2-sepie 7de Laan losgeslaan het, drie jaar van werkloosheid deurmaak. Nadat sy die grade LLB en LLM in regte en ʼn graad in drama voltooi het, het sy geglo die wêreld lê onder haar voete, maar die rolle het nie ingestroom soos sy gehoop het nie.

“Dit is maar daai ding van jou deure het net toe gebly. Ek het gedink ek is seker maar net nie goed genoeg nie, maar die Here stap ʼn unieke pad met elke mens. Hy skool elke persoon vir ʼn spesifieke doel of rede en dit was ʼn goeie ding dat ek daardie pad gestap het, sodat ek kan voel hoe dit voel om met my voete in modder te staan. As my pad nou met mense sʼn kruis wat in dieselfde situasie is, dan weet ek hoe dit voel. Ek kan hulle probeer inspireer en hoop gee deur ʼn komieklike karakter soos Die Flooze.”

ʼn Uitblinker was sy nog altyd. As hoofmeisie in die laerskool en hoërskool het sy presteer op die sportveld en was ook primaria van haar koshuis op universiteit.

“Sport en kultuur, victrix ludorum, leerder van die jaar – al die balkies het pragtig gehang. So, hier sit ek met hierdie arsenaal van prestasies en word uit die park geslaan en raak ʼn bottom feeder. Ek kon gaan article het en proe hoe dit proe om geld te hê en ʼn salaris te verdien, maar ek sou moes kies tussen my hart en my verstand. My verstand het gesê regte is ʼn goeie beroep, maar ek wou nie vir my hart jok nie.”

Toe kry sy die oproep dat sy ʼn tiensekonderol in 7de Laan losgeslaan het. “Paula (vertolk deur Diaan Lawrenson) se spesifieke storielyn het ʼn doodlooppunt bereik en die vervaardigers wou dit sodanig vernuwe dat sy ʼn klomp vriende of kêrels op verskillende dorpe gehad het en dan nou onder meer in Witbank, waar Die Flooze vandaan kom.”

Die Flooze was ʼn impakkarakter en dus sou Sorina net twee lyntjies moes sê voordat sy vir Paula moes “pot”. “Dit was veronderstel om die rakleeftyd van Die Flooze te wees.”

Sy lag. “Ek was nog net twee of drie keer in Witbank en het geen benul hoe lyk die Witbankdam nie.”

Sorina het nooit gedink dat komedie die plek sou wees waar sy in dié bedryf sou skitter nie. “Ek het drama gaan studeer vir die ernstige rolle. Die rolle wat jy op enige gegewe oomblik ʼn traan kan stort dat dit lyk of die water in die see te min is. Een van my dosente het altyd vir my gesê ek is briljant in komedie en het komediese tydsberekening, en ek het altyd gesê: ‘Ag asseblief, dis nou nie ʼn vak waarin ek wil cum laude nie.’ Sy het toe al raakgesien wat ek nie kon nie. My pad het toe so geloop dat die komedie my kom uitkies het, daar langs Witbank se dam in die vorm van Die Flooze.”

Sy weet nie wat in die toekoms van Die Flooze gaan word nie. “Dit is nou Flooze-season en dis net ʼn goeie, lekker tyd, maar wie weet? My trein stop by die stasie waar hy moet. Ek glo as mens jou pad in geloof stap, daag jy op waar jy moet. Dalk nie waar jy altyd wil nie, maar dit gebeur so. Ek wou nie in werkloosheid beland nie, maar my paadjie moes daar stop sodat ek my storie kan deel. Ek weet net, ek sal wees waar ek moet wees op die regte tyd, want die Here se tydsberekening is perfek. Ek geniet die oomblik en blom nou waar ek geplant is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Lekker lag ·

“Tune tune baboon, chaaf chaaf giraffe, ek is gif soos ‘n pofslang my bra…..”

ctd ·

Dankie vir jou positiewe uitkyk in die lewe . Dit steek ander mense se vure aan die brand. Daar is n plek vir almal in die son.

Lily du Plessis ·

❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤❤ hierdie vrou

JWC ·

Goed om te weet Flooze se huis is op (‘n) Rots gebou… nooit geweet nie en sal nou met nuwe respek na haar kyk en luister.

Linda ·

Ek smaak die bliengmasjien asook haar song saam met die eetbare Dirk van der Westhuizen !!! Sharp !!!

Surina fan ·

Love haar musiek. Love Boerboele en ek sien syt Boerboele un ha nuwe musiek video met bling brille. Nogals blink swart bierboele ! ! !

QbeckLynn ·

Gaping in die mark gesien as n unieke Afrikaanse vroulike komediant en dit aangegryp…. slim Sorina…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.