Soweto String Quartet se Afrikaanse treffersalbum binnekort beskikbaar

SSQ afrikaans‘n Musiekvideo waar die Soweto String Quartet Lucas Maree se “Miljoen” speel volg onderaan die berig. Soweto String Quartet is terug met ’n album wat ongetwyfeld almal wat dit hoor gaan bekoor en verras! Soweto String Quartet speel Afrikaanse treffers Vol. 2 beloof om, net soos die eerste volume, ’n groot gunsteling onder die Suid-Afrikaanse gemeenskap te wees.

Die groep bestaan uit twee broers en twee vriende: Sandile Khemese op eerste viool, Thami Khemese op tweede viool, Makhosini Mnguni op viola en Themba Machobane op tjello.

As klein seuntjies het hulle op stowwerige grondpaaie geloop met hulle instrumente versteek in papiersakke om sodoende musieklesse te kan bywoon. Dit was net die begin van ‘n nalatenskap wat vandag geen bekendstelling nodig het nie.

Soweto String Quartet, of SSQ vir kort, het reeds verskeie albums vrygestel en is net so deel van ons pragtige land se erfenis soos boerewors, biltong, Madiba en rugby. Hulle is verseker een van SA se mees geliefde instrumentele groepe – en hulle optrede by Nelson Mandela se presidensiële inswering was een van hulle loopbaan hoogtepunte. Hulle swart-en-wit-sebrastreepbaadjies simboliseer hoe Suid-Afrika se verskillende kulture mekaar nodig het en SSQ self staan vir eenheid en om ons nasie te bou.

In 2007 het hulle die album Soweto String Quartet speel Afrikaanse Treffers vrygestel onder die kreatiewe leiding van Louis Brittz en Merchant Music. Min het hulle geweet hoe goed die album ontvang sou word in die Suid-Afrikaanse gemeenskap oor kultuur en kleurgrense heen! Die album was so suksesvol dat dit goue status binne weke bereik het.

Soweto String Quartet speel Afrikaanse Treffers Vol. 2 beloof om luisteraars op ‘n Suid-Afrikaanse reis te neem met liedjies soos “Timbuktu”, “Die Bloubul”, “Baby tjoklits”,“‘n Vrou wil dit hoor” en “Tussen jou en my” om ‘n paar te noem.

SSQ se unieke styl tesame met die Afrika gevoel van die liedjies sal jou gou-gou laat saam dans en sing. Wat hierdie album ekstra spesiaal maak is dat dit ook samewerkings tussen SSQ en kunstenaars soos Gerhard Steyn, Dozi, Anton Goosen en Juanita du Plessis insluit op hulle oorspronklike trefferliedjies.

Hierdie album beloof om een van die hoogtepunt albums te wees van 2013 en dit behoort in elke persoon se CD versameling te wees. Die album sal vanaf 20 September 2013 in winkels beskikbaar wees.

ssq afrikaans 2

Die Soweto String Quartet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.