Soweto String Quartet speel Afrikaanse treffers Vol. 2

SSQ afrikaansIn 2007 het die Soweto String Quartet, wat toe al ‘n gevestigde strykkwartet was, hul eerste Afrikaanse album vrygestel.

Nadat musiekliefehbbers lank moes wag, het hulle eindelik so pas  hul tweede Afrikaanse album vrygestel. Die eerste snit sal niemand verbaas nie; hulle speel die temamusiek van 7de Laan, en hulle kombineer dit met die temamusiek van Noot vir noot en Kwêla. Die tweede snit is ‘n keunrspel van Riana Nel se Timbuktu en Eden se Vra my. ‘n Musiekvideo van hierdie snit sal glo binnekort vervaardig word. Anders as op die eerste album werk hulle saam met die kunstenaars wat sekere van die snitte oorspronklik opgeneem het. Die eerste daarvan is Gerhard Steyn, en hy sing op die keurspel van Baby tjoklits, Diamante vir jou en Is dit nie te laat nie saam met hulle. Dis net jammer dat daar nie op een snit besluit is wat volledig opgeneem wou word nie, maar dit klink goed. Die volgende snit bestaan uit Bobby van Jaarsveld se twee treffers ‘n Vrou wil dit hoor en Spieëltjie.   Hulle vergeet egter nie van ouer Afrikaanse musiek nie; ‘n keurspel van Neem my op vlerke en Ek lewe van Anneli van Rooyen en Reik na die sterre van Bles Bridges is volgende.

Dit sal seker niemand verbaas dat hulle een of ander tyd ‘n rugbyliedjie sou insluit nie, en Die Blou bul, seker die beste rugbyliedjie wat nie deur Leon Schuster geskryf of gesing is nie, is saam met Die trane die rol oor jou Bokkie in ‘n keurspel ingesluit. Dis ‘n lekker verrassing om te hoor dat hulle ‘n Afrikaanse volksliedjie speel. Die derde deel van hierdie keurspel is ‘n wysie wat by alle bevolkingsgroepe byval gevind het. Mafikizolo het ‘n baie groot treffer met Ndi hamba nawe gehad, en Kurt Darren het dit in Afrikaans gesing onder die titel Kom bietjie hier.  Daar is net twee snitte wat in hul geheel ingesluit het; die eerste een is Dozi se treffer Tussen jou en my, waarop hy ook saam met hulle sing.  Nog een van Riana Nel se treffers is volgende, naamlik Soos die son, wat saam met Lize Beekman se bekende komposisie Sonneblom uit Bethlehem in ‘n keurspel ingesluit is. Twee van Koos Kombuis se liedjies is volgende, naamlik Bicycle sonder slot en Lisa se klavier, wat die meeste buitendien as sy mooiste komposisies beskou,. Daar word ook op gepasre manier hulde gebring aan Anton Goosen ; hy sing saam met hulle op Jantjie en Waterblommetjies.  Nog ‘n snit van Kurt Darren, Af en af is saam met Pieter van der Westhuizen se komposisie Wie se kind is jy, wat ‘n treffer vir Dr. Victor and the Rasta Rebels en Theuns Jordaan was, ingesluit. Junaita du Plessis sing saam met hulle op Ons Koning kom , wat saam met  Joe Niemand se treffer Ek sal nie bang wees nie in ‘n keurspel ingesluit is. Hierdie snit is dalk die hoogtepunt op die hele album. Nog ‘n hoogtepunt is die bekende Gé Korsten-treffer Liefling. Die laaste snit op die album is die baie bekende Magaliesburgse aandlied.

Dis goed om te sien dat Afrikaanse musiek nie net by die “tradisionele” gehore byval vind nie; hierdie album sal sekerlik nog baie doen om musikale grense af te breek. Daarom sal dit hopelik baie gewild word onder luisteraars van alle ouderdomme en bevolkingsgroepe.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.